Man wat sterf ná Cape Epic was gesin se ‘anker’

Francois du Toit en Anna Swanepoel. (Foto: Facebook)

Francois du Toit, die Bloemfonteiner wat Maandag ʼn dag nadat hy sy sesde Absa Cape Epic-bergfietswedren voltooi het onverwags oorlede is, was iemand wie se avontuurlustige geaardheid almal om hom geïnspireer het.

“Hy laat ʼn groot leemte in ons lewe. Hy was regtig ons anker,” het Anna Swanepoel, Du Toit se vrou, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Swanepoel vertel dat Du Toit glad nie sleg gevoel het nadat hy en sy fietsrymaat, Dirk Botha, dié tawwe bergfietswedren voltooi het nie.

Die egpaar sou Maandag huiswaarts keer, maar tóé beswyk Francois dié oggend onverwags aan ʼn hartaanval in die egpaar se seun se huis in Stellenbosch.

“Daar was nie klagtes nie. Inteendeel, hulle het nog onder hulle oefengroep van Bloemfontein gespot dat hy en Dirk die groep Sondag weggery het. Dit was sy beste Epic nóg,” vertel ʼn emosionele Swanepoel.

“Hy was ʼn regte terggees. Hulle het gespot dat hulle soos ou perde is wat al hoe fikser word hoe verder hulle gaan.”

Francois was die dag voor sy dood veral in sy skik omdat hy onder die eerste 400 deelnemers klaargemaak het. Hy het ook reeds twee Freedom Challenge-bergfietswedrenne agter sy blad gehad.

Francois du Toit by sy gesin. (Foto: Verskaf)

Swanepoel vertel dat haar man van die afgelope 15 jaar sy lewe lank avontuurlustig en sportief was. Hy het veral ʼn voorliefde vir fietsry en die natuur gehad.

Francois was ook ʼn uitblinker in die houtwerkbedryf en veral onder die gemeenskap van Bloemfontein vir sy ontwerpe en vakmanskap bekend.

“Almal gaan hom onthou vir die legende wat hy was – wat altyd almal se denke uitgedaag het en wie se avontuurlustige leefstyl mense gemotiveer en geïnspireer het.”

Die oorsaak van Du Toit se dood is vandag amptelik aan ʼn hartaanval toegeskryf.

Hy word Saterdag 30 Maart uit die NG gemeente Heuwelsig in Bloemfontein ter ruste gelê.

Du Toit word oorleef deur sy vrou en vyf kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Linda ·

Dit is tragies dat fikse mense nou so sterf aan hartaanvalle. My buurman is onlangs een oggend in die gym dood agv n hartaanval. Hy was uiters fiks, het ook gedraf ens !!!

anonymous ·

ja ne, en lui mense sos ek wat nooit nie n meter hardloop sal nooit emmer skop van n hartaanval…

Jaco ·

Dis moontlik die geweldige stres waaronder mense verkeer. Ek werk vir myself en besit n fabriek, die selfsug en druk vanaf kliënte en mense oor die algemeen het GEEN perke nie en wil almal hul produk altyd DADELIK hê. So sien n mens die lelik raak in meeste mense. Ek gym en oefin ook om so stres te probeer ontlaai maar ek is oortuig daarvan dat ek ook nog jonk sal neeslaan agv n hartaanval. Mense besef nie wat hul aan ander mense doen nie.

fish ·

So die “moral of the story” is moenie oefen nie.
My innige simpatie vir almal wat betrokke is. Swaar om ‘n steun-pilaar te verloor en ‘n rots wat almal bymekaar hou.

Leon ·

As bergfiets-fietsryer, gaan my innige simpatie aan die hele familie. Om enige iets te blameer, sal verkeerd wees. Hy het sy lewe ten volle geniet, en ek hoop sy familie vind vertroosting daarin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.