Man wat tiener glo herhaaldelik verkrag in hof

hof-hamer

Argieffoto

ʼn 31-jarige man het Dinsdag in die landdroshof in Brits in Noordwes verskyn nadat hy glo ʼn 13-jarige seun verkrag het.

Die man sal na verwagting volgende week Dinsdag weer in die hof verskyn. Hy sal tot dan in aanhouding bly.

Die man is Sondag deur die Makau-polisie in Noordwes in hegtenis geneem.

Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê volgens inligting wat die polisie ontvang het, het die seun na bewering Vrydag laat by die huis aangekom.

“Die ma, wat blykbaar nie tevrede was dat hy laat huis toe kom nie, het hom gevra waar hy was. Hy het toe glo sy ma vertel dat hy by die verdagte se huis was en dat hy al sedert Desember verlede jaar deur die verdagte verkrag word,” vertel Myburgh.

Die verdagte het volgens die seun hom met die dood gedreig as hy iemand van die verkragtings sou vertel. Die ma het die saak by die polisie aangemeld.

In ʼn afsonderlike voorval het ʼn 34-jarige man Maandag in die landdroshof in Brits verskyn nadat hy glo Saterdag ʼn vierjarige meisie in Mooinooi in Noordwes verkrag het. Hy sal in aanhouding bly totdat hy weer op 29 September in die hof verskyn.

Myburgh sê volgens inligting wat die polisie tot sy beskikking het, het die meisie se ouers haar by die verdagte, wat aan die gesin bekend is, gelaat om hul broerskind wat by hulle gekuier het te gaan aflaai.

“Toe die ouers terugkeer, het hulle hul kind gekry waar sy saam met die verdagte sit en tee drink.”

Daar word beweer dat die dogtertjie toe vir haar ma vertel het wat gebeur het. Sy is na die kliniek geneem waar verkragting bevestig is.

Die polisie is toe van die verkragting in kennis gestel en die verdagte is Sondag by sy huis in hegtenis geneem.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het Brits se polisie-eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) geloof vir hul vinnige reaksie wat tot die skuldiges se inhegtenisneming gelei het.

“Die polisie sal seker maak die skuldiges sal aan die pen ry,” het Kwena gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Misky ·

Ek verstaan eenvoudig nie meer wat aangaan met die siek land van ons nie. Was daar nog altyd so baie gevalle van verkragting onder kinders en dis net nooit bekend gemaak nie of is dit n nuwe ding wat so gereeld gebeur? Siek, siek, siek!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.