Man wat verstandelik gestremde verkrag hoor sy lot

Nathan Fourie. Foto: Raahil Sain / ANA

Nathan Fourie (28) is Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gevonnis in verband met die verkragting van ʼn verstandelik gestremde vrou wat die intellektuele vermoëns van ʼn kleuter het.

Hy is deur regter Jannie Eksteen tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Fourie is Dinsdag skuldig bevind op aanklag van verkragting. Hy is egter vrygespreek op ʼn aanklag van aanranding van die vrou se oom wat Fourie op heterdaad betrap het met sy broek afgetrek, oomblikke nadat die vrou verkrag is.

Die verkragting het in Junie verlede jaar in Bethelsdorp by ʼn halfgeboude huis gebeur, net ʼn paar meter weg van die huis waar ʼn familie byeengekom het om die slagoffer se suster se 21ste verjaardag te vier. Fourie, wat nie genooi was nie, het die viering bygewoon, maar hy en die vrou het verdwyn en die familie en lede van die gemeenskap het na die vrou begin soek.

Die vrou se oom en nog ʼn familielid het op haar en Fourie afgekom nadat hulle haar hoor skree het.

Fourie het gedurende die verhoor ontken dat hy die vrou verkrag het en het later beweer hy was nie daarvan bewus dat sy verstandelik gestremd was nie. Hy het ook ontken dat hy die verjaardagviering bygewoon het en beweer hy het net verby die halfgeboude huis geloop toe hy gehoor het hoe die vrou sy naam roep. Hy het beweer hy het haar aanvanklik geïgnoreer, maar later by die huis ingegaan waar hy die vrou gevind het wat geensins benoud of ontsteld gelyk het nie.

Eksteen het in sy uitspraak gesê Fourie het geen berou oor sy dade gewys nie en het nie ʼn goeie indruk in die getuiebank gemaak nie. Eksteen het ook gesê daar was ʼn hele aantal “groot onwaarskynlikhede” in sy getuienis en hy het Fourie se weergawe van gebeure verwerp.

“Eerstens het die klaer, wat verstandelik erg gestremd is, nog nooit vantevore met [Fourie] gepraat nie, maar sy het hom by ʼn donker stegie ingelok. Ek vind dit baie onwaarskynlik,” het Eksteen gesê. Hy het ook gesê Fourie se bewering dat die vrou verkrag is voordat hy in die halfgeboude huis ingegaan het, is teenstrydig met sy bewering dat die vrou kalm was toe hy op haar afgekom het. Hy het gesê Fourie se optrede om sy slagoffer uit te kies was vooraf beplan.

Fourie se naam sal op die lys van seksuele oortreders geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jenny Lightfoot ·

So ‘n man maak dat ek geweldadig voel! Hoe durf hy homself nog probeer verontskuldig? Dankie aan regter Eksteen vir sy welverdiende straf

NOT a LEGAL EAGLE ·

Hoeveel is lewenslank in SA en na hoeveel jaar kan hy op parool vrygelaat word?

snoefie ·

“Hy het gesê Fourie se optrede om sy slagoffer uit te kies was vooraf beplan.” laat my wonder wie het hom van die dametjie vertel en hoe het die skinderbek geweet? hoeveel kere het dit al tevore gebeur.

Tina ·

Dankie regter Jannie Eksteen. Hoop hy bly binne waar hy hoort en kry sy eie medisyne terug.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.