Man wat visvang verdwyn in see toe branders hom van rotse afslaan

Argieffoto

Die hengelaar wat Saterdagmiddag van die rotse afgeslaan is naby Pinnacle Point by Mosselbaai is steeds nie opgespoor nie.

Andre Fraser, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsintituut by Mosselbaai, het gesê hulle is Sondagoggend omstreeks 03:18 in kennis gestel van die voorval.

Die polisie, NSRI, nooddienste asook ʼn mediese helikopter is na die toneel ontplooi.

“Toe ons by die toneel opdaag, het die soektog begin vir die 38-jarige plaaslike man wat saam met drie vriende visgevang het toe hy van die rotse afgeslaan is. Hy het in die rowwe water verdwyn.”

Volgens Fraser is ʼn omvattende lug-, see- en kuslynsoektog gedoen, maar geen teken van die man is opgespoor nie.

Die polisie se soek-en-reddingspan het die soektog nou oorgeneem.

In dieselfde asem het die NSRI die publiek gewaarsku om vanaf Saterdag 22 September tot ná volgende naweek versigtig te wees, aangesien dit springgety is wat Dinsdag sy hoogtepunt bereik. Die NSRI het mense gemaan om net te swem op strande waar daar lewensredders is, en tussen die afgebakende vlaggies.

Hulle het ook spesiaal gemaan dat ouers mooi na hul kinders moet omsien naby die kuslyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

leser ·

hoe tragies, man wat sy sport “love” is nie meer daar nie

Paul ·

My pa was ongelooflik lief vir hengel, hy het dikwels anderkant Bloubergstrand of aan die anderkant van die skiereiland by Swartklip gaan hengel. Dit was in die jare ‘60. By Swartklip was daar op ‘n plek ‘n kolossale oorhang wat oor rotse en die see, daar onder, uitgestrek het. Hy het op een dag met die Zeyhyr aan die bokant parkeer, so ‘n ent weg.

Op ‘n stadium stap ek terug na die kar om iets uit die kattebak te gaan haal, met die terugstap sien ek ‘n streep op die grond, van doer ‘n ent weg wat verby my gaan tot daar aan die anderkant van die oorhang. Die sand kalwe so na die binnekant toe weg. Ek sien toe die streep raak stadig al langer en breër en die wit sand begin al vinniger in die skeur wegsak. Ek skree vir my pa so vyftig meter weg waar hy met die visstok staan en oor die see uitkyk, so nou en dan die stok toets of daar nie ‘n byt is nie.

Na hy een kyk gegee het, het hy nie eens sy hengelsak gegryp nie, net laat spaander. Met die skeur wat nou al vinnig breër en langer begin raak, die sand wat nou al in die skeur stroom, het ons vinnig in die kar gespring en trek met ‘n spoed daar weg. Ons het seker nie 30 meter gery nie of ons hoor hoe die oorhang met ‘n almagtige geluid in die see stort.

MAGGIE ·

Paul dis lekker om vamelewe se stories te lees op n Sondag-middag oppi kooi….

Fran ·

Alle mense!!! Hengel asb waar dit veilig is. Dink aan julle geliefdes!!!!

Charl ·

Tragies. Ek ken daardie hengel area goed. Dit is gekoppel aan n pragtige stap/draf-roete wat bolangs verbyloop teen die hange van die kuslyn. Op my vele staptogte daar verby het ek gereeld hengelaars onder op die rotse gemerk wat tot amper na sononder nog staan en visvang. Kon nooit verstaan presies waarom hul die spesifieke area kies daarvoor aangesien die see gewoonlik roof tussen daardie rotse gemaal het. ‘n Kennis het my ook meegedeel dat die seereddings-instituut gereeld mense in die area te hulp snel wat van die rotse afgelaan is, juis omdat die see so rof is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.