Man wat vriendin glo aan brand steek, bly agter tralies

ʼn Man van Mpumalanga wat van poging tot moord aangekla word nadat hy glo sy vriendin aan die brand gesteek het, bly agter tralies nadat die Witbank-landdroshof sy aansoek om borgtog van die hand gewys het.

Kholofela Nonyane word daarvan beskuldig dat hy in Desember verlede jaar ná ʼn hewige rusie met sy 20-jarige vriendin paraffien oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek het terwyl sy geslaap het. Hy het haar daarna in hulle huurkamer in Old Coronation toegesluit.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, het gesê die vrou het wakker geword en ander inwoners het kom help nadat hulle haar gille gehoor het.

“Die polisie en nooddienste is ontbied toe hulle besef hoe erg sy gebrand het en die slagoffer is na ʼn hospitaal geneem,” het sy gesê.

Volgens die NVG het Nonyane ná die voorval op die vlug geslaan. Hy is vroeër vandeesmaand in sy skuilplek in Shatale, naby Bosbokrand, opgespoor.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week gevra vir groter onverdraagsaamheid teenoor geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika te midde van stygende berigte van kindermishandeling en moorde op vroue.

Ramaphosa het tydens ʼn aanlyn bespreking oor die Covid-19-pandemie en die uitwerking daarvan op mense gesê sy regering is bekommerd dat dié soort misdade ongebreideld voortduur ondanks pogings om die vlaag te stuit.

“Sekere houdings is ingewortel in die gedrag van mans in ons land, daardie patriargie waarvolgens mans meen dat hulle vroue besit, hulle beheer en wat hulle ook al wil aan vroue kan doen. Dít moet bestry word,” het die president gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Deon ·

Hoe werk “lobola” die man betaal mos vir die vrou? Hy koop haar. En as n persoon n iets gekoop het dan is dit mos sy eiendom om daarmee te maak soos hy goed dink… Is dit nie deel van die rede met al hierdie geweld teen vroue nie? Ek se nie almal is so nie.

ES ·

Maar weereens Mnr Die President – daar word net gepraat en niks niks gedoen nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.