Man wéér geopereer ná Comrades-tref-en-trap

Johan Doubell. Foto: Facebook

Johan Doubell, die man wat erge beserings opgedoen het nadat hy tydens die Comrades-marathon in ʼn tref-en-trap-ongeluk raakgery is, word steeds in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Pietermaritzburg behandel.

Erika Kapp, Doubell se verloofde, sê Doubell moes Maandag weer geopereer word, die keer om albei sy onderbene te herstel, asook sy oogbank en ʼn gedeelte van sy voorkop. “Hy was gisteraand op ʼn semi-ventilator, maar hulle kon hom weer vanoggend afhaal. Hy is nie heeltemal wakker nie. Hy praat ʼn bietjie, maar hy is nog maar deurmekaar,” sê sy.

Sy sê die volgende 72 uur is belangrik omdat dokters Doubell fyn moet dophou om seker te maak dat hy nie enige infeksie opdoen ná die operasie nie. Veral aangesien Doubell ʼn diabeet is, kan ʼn infeksie in die stadium lewensgevaarlik wees.

Doubell is reeds verlede week geopereer om ʼn staalpen in sy regterbobeen te laat sit. Dokters het aanvanklik gevrees dat dié been moontlik geamputeer sal moet word, maar volgens Kapp was hierdie drastiese stap nog nie nodig nie.

Doubell word in die St. Anne-hospitaal behandel.

Kapp sê daar is nog geen aanduiding van hoe lank Doubell nog in die hospitaal moet wees nie. “Die dokters sê vir ons daar is nog ʼn baie lang pad wat voorlê. Selfs wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word, lê daar baie rehabilitasie voor en sal hy weer moet leer om behoorlik te loop en als. Vir nou is sy toestand stabiel en daaroor is ons baie dankbaar.”

Maroela Media het vroeër berig Doubell en Kapp het op 10 Junie tydens die Comrades-marathon as vrywilligers by ʼn waterpunt in Ashburton gewerk toe Doubell deur ʼn ligblou bakkie raakgery is. Die bestuurder het onmiddellik, sonder om stil te hou, van die toneel gevlug.

Doubell het kritieke beserings opgedoen, waaronder sy regteroogbank wat gekraak is, wangbeen wat gebreek is, gebreekte ribbes en een van sy longe wat platgeval het. Hy het ʼn jaar gelede ʼn knievervanging in sy regterbeen gehad en dié knie het in vyf stukke gebreek. Doubell se linkerbeen is ook gebreek.

ʼn 51-jarige man het hom twee dae later by die Alexandra-polisiestasie oorgegee in verband met die voorval. Hy is op waarskuwing vrygelaat. ʼn Saak van roekelose en nalatige bestuur en versuim om op ʼn ongelukstoneel stil te hou is aanhangig gemaak en die dossier is na die direkteur vir openbare vervolging gestuur om te besluit of iemand vervolg sal word.

Doubell se vriende het ʼn geldinsameling van stapel gestuur om sy mediese onkoste te help dek. Hulle hoop om R100 000 in te samel om Doubell te help. Teen Dinsdagmiddag is net meer as R23 500 ingesamel. Vir meer inligting besoek die Back a Buddy-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

DV ·

Sterkte Johan, ‘n ou vra nie vir ‘n ongeluk maar dit gebeur sommer van self.
Hoop jy vorder vulks in die hospitaal.

marous ·

Die man word op waarskuwing deur die POLISIE vrygelaat hangende beslissing deur die nvg? Wat ‘n gekspul.

Colleen ·

En ek neem aan die skuldige wat op waarskuwing laat gaan is, gaan nie ‘n sent bylas vir hierdie man se mediese uitgawes nie. Lafaard!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.