Man weer in hof ná wrede aanval op plaas

hof-hamer

Argieffoto.

ʼn 32-jarige verdagte het Donderdag in die Hankey-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn in verband met ʼn aanval op ʼn plaas in dié omgewing waartydens ʼn ma van drie kinders geskiet en glo verkrag is.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak is tot 14 Junie uitgestel vir verdere ondersoek. Die verdagte het op aanklagte van huisroof, vier aanklagte van poging tot moord, vier aanklagte van ontvoering, verkragting, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, diefstal en roof met verswarende omstandighede verskyn.

Weens die seksuele aanklagte teen hom, kan sy naam nie bekendgemaak word voordat hy nie in die hof gepleit het nie.

Maroela Media het vroeër berig die verdagte is op 28 Maart in die Nketlana-nedersetting, net ʼn paar kilometer van die Lesotho-grens, in hegtenis geneem. Dit kom nadat ʼn 44-jarige vrou en haar drie kinders op 23 Maart by ʼn huis op hul plaas aangeval is. ʼn Aanvaller het toegang tot die huis verkry deur verskeie skote deur ʼn glasdeur te skiet en die vrou is in haar rug gewond.

Die aanvaller het die vrou gedwing om, met die koeël steeds in haar rug, saam met hom na ʼn kitsbank in Hankey te ry om geld te onttrek. Terwyl die aanvaller besig was om die geld te onttrek, kon die vrou daarin slaag om met haar voertuig weg te kom.

Van die goedere wat tydens die aanval gesteel is, is tydens die verdagte se inhegtenisneming teruggevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.