Man weer in hof oor Uyinene se moord

Uyinene Mrwetyana

Die 42-jarige beskuldigde wat in hegtenis geneem is in verband met die verkragting en moord op die 19-jarige eerstejaarstudent van die Universiteit van Kaapstad (UK), Uyinene Mrwetyana, het Dinsdag in die Wynberg-landdroshof in Kaapstad verskyn. Die saak teen hom is uitgestel tot Donderdag wanneer dit na die hooggeregshof oorgeplaas gaan word.

Landdros Goolam Bawa het toestemming gegee dat Luyanda Botha, die beskuldigde in die saak, se naam bekend gemaak mag word. Beskuldigdes wat van seksuele misdrywe aangekla word, se name mag gewoonlik eers bekend gemaak word ná hulle gepleit het.

Botha staan tereg op aanklag van verkragting, moord en regsverydeling. Hy het Mrwetyana einde Augustus na bewering na die Clareinch-poskantoor gelok waar hy haar glo verkrag en doodgeslaan het.

Botha het glo erken hy het die jong student verkrag en vermoor toe die polisie hom ses dae ná die voorval in hegtenis geneem het. Dit het ook aan die lig gekom dat hy ’n misdaadrekord gehad het voor sy aanstelling by die poskantoor.

Maroela Media het vroeër berig oor Mrwetyana wat op 24 Augustus vermis geraak het. Haar liggaam is meer as ’n week later in Lingelethu-Wes in Khayelitsha gevind. Botha is op 31 Augustus in hegtenis geneem in verband met haar verdwyning.

’n Groep betogers het buite die landdroshof byeengekom en liedere gesing asook plakkate omhoog gehou waarin hulle geregtigheid eis.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ná die hofverrigtinge die media ingelig oor sy rol om misdaad te bekamp.

Rodney de Kock, die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolgings (DOV), het gesê hulle wil sake wat verband hou met geweld teen vroue en kinders asook georganiseerde misdade op die regte wyse hanteer. “Ons wil seker maak ons het die nodige kundigheid beskikbaar om sake soos hierdie reg te hanteer. Daarom sal ons seker maak die gepaste mense sal die aanklaerposte vul,” sê hy.

De Kock meen hulle wil toesien dat misdaadsyfers daal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Essie ·

As jy n lewe neem moet joune daarvoor betaal dus stel ek die doodstraf voor

ES ·

Essie, ongelukkig beskerm Hoofstuk 2 van die konstitusie almal – insluitend die krimineel – se lewe. Die regering mag nie jou reg tot lewe ontneem nie. Dit is die enigste funamentele mensereg wat nie op enige wyse gelimiteer mag word nie.

Dis baie onregverdig en baie wreed. Daarom moet ons hoop en bid dat die hof ‘n baie swaar straf ople vir hierdie man. Hy moet nooit die moontlikheid vir parool kry nie…

Daar is nie so iets soos geregtigheid in hierdie lewe nie – daar is net wetgewing, en ons moet hoop dat dit op so manier verander kan word dat swaarder strawwe opgele moet word vir sulke afskuwelike dade.

ES ·

Korreksie – jou reg tot menswaardigheid mag ook nie gelimiteer word nie.

Anna ·

So n mooi kind met n blink toekoms. Ek bid vir haar familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.