Man wil appelleer ná mangat-moord

Gerhardus Pienaar Papenfus (Foto: Maroela Media)

Gerhard Papenfus (44), die man wat daaraan skuldig bevind is dat hy die Pretorianer, Danie Dreyer (64), vermoor en sy liggaam in ʼn mangat gestort het, wil teen sy skuldigbevinding en vonnis appelleer.

Papenfus is op 22 Mei deur regter Bert Bam in die Pretoria-hooggeregshof saam met sy twee medebeskuldigdes, Estelle Reddy (38) en Kevin Johnson (31), elk tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die moord op Dreyer, ʼn afgetrede polisiebeampte en sakeman van Pretoria wat op 28 Maart 2016 tydens ʼn aanval in sy huis in Villieria dood is.

Ruvan Regionald Furst, die drie se medebeskuldigde, is in Mei van die verhoor verskoon nadat sy saak van die ander drie s’n geskei is weens sy gesondheidsprobleme. Hy bly in aanhouding terwyl hy waarneming ondergaan.

Die staat het aangevoer dat Dreyer tydens ʼn rooftog by sy huis vermoor is. Papenfus het egter aangevoer dat Dreyer ʼn hartaanval gehad het toe hy, Johnson en Furst by sy huis opgedaag het om die diere te versorg en daar ʼn onderonsie met Dreyer uitgebreek het.

Reddy en Papenfus en Johnson is skuldig bevind aan regsverydeling nadat hulle probeer het om van Dreyer se liggaam ontslae te raak deur hom in ʼn mangat naby Papenfus se huis te gooi, waarna daar bytsoda oor sy liggaam uitgegooi is. Dreyer se liggaam was so erg ontbind en met die chemikalie gebrand dat die presiese oorsaak van sy dood nie deur ʼn nadoodse ondersoek vasgestel kon word nie. Al drie is ook skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede van Dreyer se voertuig en verskeie items huisware, en diefstal van Dreyer se bankkaart en geld.

Reddy en Papenfus is ook skuldig bevind dat hulle Dreyer se kamer aan die brand gesteek het nadat die liggaam verwyder is, in ʼn poging om van bewyse ontslae te raak. Papenfus is ook skuldig bevind aan die besit van dwelms. Buiten sy lewenslange vonnis, is hy tot altesaam 55 jaar tronkstraf gevonnis op die bykomende aanklagte.

Al drie beskuldigdes het direk ná die vonnisoplegging aansoek gedoen om verlof tot appèl, maar Bam het dit van die hand gewys en gesê hy is nie daarvan oortuig dat ʼn ander hof tot ʼn ander beslissing sal kom nie.

Adv. Anthonie Viviers, Papenfus se regsverteenwoordiger, het aan Maroela Media gesê sy kliënt se petisie is Donderdag by die appèlhof in Bloemfontein geliasseer.

Viviers het gesê Papenfus wil onder meer appelleer aangesien hy meen dat die staat nie daarin kon slaag om bo redelike twyfel te bewys dat hy Dreyer wel vermoor het nie. Daar was ook nie mediese en forensiese bewyse dat die oorledene gebloei het nie.

Estelle Reddy, Gerhard Papenfus en Kevin Johnson in die hof (21 Mei 2018). Foto: Maroela Media

Prof. Ryan Blumenthal, ʼn forensiese patoloog wat vir die staat getuig het, sowel as prof. Jan Botha, ʼn forensiese patoloog vir die verdediging, het albei bevind dat die presiese oorsaak van Dreyer se dood nie vasgestel kon word nie.

“Dit is nie moontlik om aan te dui of die oorledene dood is aan ʼn vorm van aanranding of ʼn moontlike hartprobleem nie. Die hartprobleem kon deur emosionele stres of iets toevallig soos ʼn hartaanval of abnormaliteit in die senuweestelsel veroorsaak word,” het Botha bevind.

Viviers dui ook aan dat die regter fouteer het deur te bevind dat “die oorledene geweldadig aangerand is en glo in ʼn plas bloed gelê het”.

“Die regter het nie in ag geneem dat geen forensiese bewyse van bloed in die oorledene se slaapkamer gevind is nie,” voer Viviers in die petisie aan.

Papenfus wil ook teen sy skuldigbevindings aan roof met verwarende omstandighede, diefstal, besit van ʼn vuurwapen en brandstigting appelleer.

Die staat het nou dertig dae om hul stukke te liasseer, waarna twee appèlregters sal oorweeg of verlof toegestaan moet word of nie.

Reddy en Johnson was van regshulp afhanklik. Dit is nie dadelik bekend of hulle ook die appèlhof genader het nie.

Lees die vorige berigte oor die Mangat-moord op Maroela Media.

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Warden ·

Al sou die slagoffer weens hartaanval sterf, waarom het hulle hom verwyder en in drein gegooi en met chemikaie behandel? Nee vir borgtog.

marous ·

Miskien kan hulle hom maar op borg vrylaat met die voorwaarde dat hy by sy regsverteenwoordiger aan huis bly om toe te sien dat hy nie ‘n vlug risiko is nie. Hy kan dan daarna die 55 jaar gaan sit.

D V ·

Ek stem met jou saam.
As hy nie deel gehad het aan die moord nie hoekom dit nie in hofsaak navore gr bring nie??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.