Man wil dagvaar oor ‘steekwond’ in polisievoertuig

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 46-jarige man van die Oos-Kaap wil stappe teen die polisie doen nadat hy na bewering ʼn steekwond opgedoen het terwyl hy in ʼn polisievoertuig was.

Jacques Debbes, ʼn inwoner van Joubertina, het verlede week met sy voertuig op die R62-pad gery toe hy ʼn sesjarige kind raakgery het. Die kind is op die toneel dood. Die voorval het die gemeenskapslede ontstig en hulle wou Debbes glo aanval.

Volgens James Riley, Debbes se regsverteenwoordiger, het sy kliënt vir sy lewe gevrees terwyl ontstoke gemeenskapslede hom gedreig het.

Riley beweer die polisie het geweier om Debbes na veiligheid te vergesel toe hulle by die toneel opdaag.

“Dit het die polisie, wat skaars 2.5km van die toneel af was, omtrent ʼn uur geneem om uiteindelik op te daag.”

Riley het gesê sy kliënt is in ʼn dubbelkajuitpolisievoertuig gesit, toe een van die groep die deur oopgemaak en Debbes in sy linkerbobeen gesteek het, terwyl ʼn beampte glo langs hom in die voertuig gesit het.

“My kliënt is in die teenwoordigheid van ʼn polisiebeampte gesteek en die polisie het absoluut niks daaraan gedoen nie. Sy broer moes hom na ʼn private dokter neem vir mediese behandeling. Die oomblik toe die polisie hom in hul voertuig gesit het, het hy hul verantwoordelikheid geword,” het hy gesê.

Volgens Riley het Debbes hom opdrag gegee om ʼn siviele eis teen die polisie en die staat in te stel. Hy sal ook ʼn formele klagte by die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) indien.

“Hy [Debbes] was in ʼn ernstige emosionele toestand ná die voorval en kon nie eens ʼn verklaring by die polisie gaan aflê nie. Ons het aanbeveel dat hy vir sielkundige behandeling gaan,” het Riley bygevoeg.

Sers. Majola Nkholi, polisiewoordvoerder, het die ongeluk bevestig en gesê die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag en dat die bestuurder [Debbes] nie in hegtenis geneem is nie.

“Die gemeenskapslede het oproerig geraak en wou die bestuurder aanrand. Die polisie het hom vir sy eie veiligheid weggeneem. ʼn Strafbare manslagsaak word nog verder ondersoek,” het Nkoli gesê.

Nkoli het gesê dat nie een van die polisiebeamptes op die toneel gesien het hoe Debbes in die been gesteek is nie.

“Ons het hom ingelig dat hy die reg het om ʼn klag in te dien, maar tot dusver het hy dit nog nie gedoen nie,” het Nkholi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

cor ·

Seker het die betrokke polisieman beperkte vissie . Daar is niemand so blind soos hy wat nie wil sien nie.

Johan. H. ·

As die polisie lid skuldig bevind word moet skuld vereffen word uit sy pensioen , dit sal die manne dalk meer paraat maak,,,,

Baby ·

Dit word verhaal van hulle pensioen indien die polisie beampte skuldig bevind word as daar sake gemaak word teen hulle. Ek vertrou GEEN polisie beampte nie!!!!!!! Nare ondervinding met hulle gehad en saak gewen darm maar ook net omdat ek recordings gehad het………..

Michael ·

Skandelike optrede deur die polisie ,dit is hoekom statistieke wys hulle word minder en minder vertrou deur Suid Afrikaners

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.