Man word in JHB getoets vir ebola

Dokters Sonder Grense verwyder 'n persoon se liggaam in Guinee wat weens die ebola-virus gesterf het Foto: thewestsidestory.net

Dokters Sonder Grense verwyder ‘n persoon se liggaam in Guinee wat weens die ebola-virus gesterf het Foto: thewestsidestory.net

ʼn 37-jarige man wat as ʼn gesondheid- en veiligheidsbeampte by ʼn myn in Liberië gewerk het, is Sondag in ʼn hospitaal in Johannesburg opgeneem om hom te toets vir ebola.

“Die man het op 6 Augustus in die land aangekom,” het Joe Maila, woordvoerder van die departement van gesondheid gesê. “Hy is tydens die normale roetine-ondersoek gesond verklaar toe hy by OR Tambo Internasionale Lughawe geland het. Die skandeerder het geen probleem uitgewys of ʼn verhoogde temperatuur aangedui nie.”

Die man was nie in kontak met enige pasiënte terwyl hy in Liberië was nie en hy was nie betrokke by pasiëntversorging nie.

Die man is egter op 16 Augustus na sy algemene praktisyn weens koors. “Die dokter het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) gekontak, soos protokol vereis,” het Maila bygevoeg. Volgens die uitslag van die aanvanklike bloedtoetse is die besluit geneem om die man steeds by die huis te monitor en Sondag weer ʼn bloedtoets te doen. “Sy koors het egter verhoog en hy is by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg opgeneem vir verdere behandeling en ondersoek.”

Maila sê die NIOS beskou die pasiënt as lae risiko vir die ebola-virus. “Protokol vir die uitbreek van hemorragiese koors moes egter as ʼn voorsorgmaatreël gevolg word, gegewe sy werksgeskiedenis in Liberië.”

Na verwagting sal die uitslag van die toetse Maandag beskikbaar wees. Hy sê die publiek sal dadelik in kennis gestel word. “Die land bly op hoë gereedheid,” het hy bygevoeg.

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het op 14 Augustus gesê daar is geen gevalle van ebola in die land waarvan hulle bewus is nie. ʼn Vrou van Guinee, wat vermoedelik met die virus besmet is, se uitslag was negatief vir ebola. Sy is by die Rahima Moosa-hospitaal opgeneem omdat sy in kraam was.

Hy sê talle mense land in Suid-Afrika uit Wes-Afrika sonder ebola.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.