Man word ondervra oor moord op Gautengse raadslid

Mapiti Matsena (Foto: Verskaf)

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag gesê ʼn man word tans ondervra oor die moord op die voorsitter van Gauteng se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid, Mapiti Matsena. Matsena is Woensdagaand in sy huis in Doornpoort, Pretoria-Noord, vermoor. Hy is in die bors met ʼn skerp voorwerp gesteek.

Cele het aan joernaliste gesê hy glo die polisie het die skuldige persoon vasgetrek. “Ons hoop hy sal vertel waarom hy dit gedoen het en wat presies gebeur het,” het Cele gesê.

Cele het sy medelye met Matsena se familie, vriende en kollegas betuig. Omdat Matsena by gemeenskapsveiligheid betrokke was, het hy baie nou saam met die polisie gewerk.

Matsena het glo enkele dae voor sy moord op sy Facebook-blad geskryf dat hy Vrydag (17 Julie) op sy verjaardag geld gaan insamel vir mense met outisme. “Alle donasies sal direk na die organisasie Autism Speaks gaan, en ek hoop dat u dit sal oorweeg om ʼn skenking te maak,” het hy op Facebook geskryf.

Maroela Media het vroeër berig Matsena was Woensdagaand saam met sy vrou en seun in hul huis in Doornpoort toe ’n aanvaller omstreeks 22:52 toegang tot die huis deur ʼn oop glasdeur verkry het. Die aanvaller het Matsena in sy slaapkamer oorval en in sy bors gesteek. Dit is nog nie duidelik waarmee Matsena gesteek is nie. Die aanvaller het daarna gevlug.

Matsena se vrou en seun het ongedeerd van die voorval afgekom.

Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê in hierdie stadium lyk dit nie asof die aanvaller iets gesteel het nie. Die motief vir die moord is ook nog nie bekend nie.

Matsena was ook die voormalige adjunkvoorsitter van die ANC in Tshwane en ook ʼn lid van die van die portefeuljekomitee vir infrastruktuurontwikkeling en eiendomsbestuur van die Gautengse provinsiale wetgewer (GPL).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stofdonkie ·

Die anc is mos een groot mafia, hulle haal mos mekaar maar so uit as dit lyk of een nie wil saam speel met die ander se onderduimshede nie. Sigaret-smouse en bedrog-leiers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.