
Mduduzi Manana buite die Randburg-landdroshof (13 September 2017) Foto: : Lindi Masinga / ANA
ʼn Regsverteenwoordiger van Mduduzi Manana, voormalige adjunkminister van hoër onderwys, het Dinsdag sy R100 000 boete kontant by die Randburg-landdroshof betaal.
Landdros Ramsamy Reddy het Manana Maandag tot 12 maande tronkstraf of ʼn boete van R100 000 gevonnis. Manana moet ook 500 uur gemeenskapsdiens voltooi, berading ondergaan en elk van sy slagoffers skadevergoeding betaal volgens die eise wat deur die staat ingedien is.
Reddy het in sy uitspraak gesê om “stabane”, ʼn neerhalende term vir ʼn homoseksuele persoon, genoem te word, het Manana nie die reg gegee om die drie vroue aan te rand nie. “Dit was neerhalend vir die vroue om so ʼn afbrekende ervaring te ondergaan,” het hy gesê.
Manana is vroeër skuldig bevind op drie aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy skuld op die aanklagte beken het. Die aanklagte hou verband met die aanranding van Mandisa Duma, Noluthando Mahlaba en Thina Mopipa op 6 Augustus by Cubana in Fourways.
Manana het in Augustus uit sy amp bedank weens dié skandaal.
Nqobizitha Mlilo, vir Manana, het gesê ʼn reëling is met die hof getref om die boete vandag ná 12:00, wat die afgesproke spertyd was, te betaal omdat Manana reeds met sy 500 uur gemeenskapsdiens begin het.
Manana het ʼn week kans om skadevergoeding aan Duma, Mahlaba en Mopipa te betaal.
Die vonnisverrigtinge van sy medebeskuldidges, Cyril Madonsela en Thulani Mdaka, sal Donderdag begin.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
20 Kommentare
Sjoe, maar die man is bevoorreg!
Wow sommer so 100 000.00 kontant, wow
Vir hom ‘peanuts’.
Kontant nogal geen geld spoor wat nagelaat word nie. Dit is slim sodoende kan sy borge nie op gespoor word nie.
Het dit seker by die pettycash gekry by die staatskas. I O Y of gratis
Of by die Guptas.