Manana: ‘Boete sal net ʼn tik op die vingers wees’

Mduduzi Manana buite die Randburg-landdroshof (13 September 2017) Foto: : Lindi Masinga / ANA

Die staat het Woensdag in die saak teen Mduduzi Manana, die voormalige adjunkminister van onderwys wat skuldig bevind is op aanklagte dat hy drie vroue by ʼn Johannesburgse nagklub aangerand het, aangevoer dat slegs ʼn boete net ʼn tik op die vingers vir sy optrede sal wees.

Anne-Marie Smith, die staatsaanklaer, het in die Randburg-landdroshof gesê Manana het ʼn “vet beursie” en dat ʼn boete nie ʼn gepaste straf vir hom sal wees nie, veral omdat hy in 2004 en 2005 skuldig bevind is aan twee aanklagte van diefstal.

Smith het skade-eise van die drie vroue ingedien wat altesaam sowat R27 000 beloop. Vroeëre skade het glo R37 000 beloop, terwyl Mandisa Duma, Noluthando Mahlaba en Thina Mopipa vir die maatskaplike werker gesê hulle dring aan op R100 000 skadevergoeding.

Deel van die bedrag waarvoor daar nou geëis word, is skade aan die drie vroue se naels en haarverlengings asook vir mediese onkostes.

Volgens Smith moet daar ʼn sterk boodskap uitgestuur word dat die mishandeling van vroue en kinders nie geduld sal word nie.

Michael Motswaneng Bill, vir Manana, het gesê om “stabane” genoem te word, ʼn afbrekende term wat gewoonlik vir homoseksuele mans gebruik word, is ook neerhalend teenoor heteroseksuele mans. Hy het aangevoer die term veroorsaak dat gay mans onderdruk word en nie vry is om lief te hê wie hulle wil nie.

Hy het ook gesê die beserings van die vroue was erg, maar nie so erg soos dit kon wees nie.

Bill het gesê Manana is bereid om die vroue te vergoed, 500 uur gemeenskapsdiens onder toesig van ʼn maatskaplike werker te doen en 12 maande tronkstraf opgelê te word wat volledig opgeskort word vir vyf jaar op die voorwaarde dat hy nie ʼn soortgelyke oortreding begaan nie.

Die hof het uitspraak tot Maandag voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Annie ·

Stem Willie ek wonder wat was sy vonnis vir die diefstal gewees, Tronk toe en gemeenskap in die tronk is wat hy moet kry, want daai buffel sal weer een of ander nonsens aanjaag.

Hendrik ·

Ag die foto saam die rubliek se alles. Daar is geen skaamte…

Karel ·

Né, nou skryf die aangeklaagde aan die hof voor wat sy vonnis moet behels.

Eish ·

Sy posisie in die samelewing moet verseker verswarend wees. Hy het (omdat hy kan) reeds al die regte geluide van berou gemaak. Dit gaan interressant wees wat die vonnis gaan behels.

Marius ·

Laaste wat ek gekyk het is aanrading strafbaar met 11 en 13 jaar….

Johanna Botha ·

Gister gehoor hy was ook op 2 aanklagtes van diefstal skuldig.. ….watse mense het ons in die anc regering !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.