Manana by ANC-konferensie uitgejou

Mduduzi Manana en Nkosazana Dlamini-Zuma by die Gauteng-ANC se konferensie in Pretoria. Foto: ANA

Mduduzi Manana, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat voorheen skuldig bevind is op aanklag van aanranding, is Vrydag uitgejou toe hy by die Gauteng-ANC se konferensie in Pretoria voorgestel is.

Niemand het hande geklap toe Ntombi Mekgwe, die provinsiale speaker, Manana se teenwoordigheid aangekondig het nie. Manana het langs Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie, gesit. ʼn Paar van die afgevaardigdes het Manana uitgejou toe sy naam genoem is.

In teenstelling daarmee is Dlamini-Zuma met luide applous en toejuiging begroet toe haar naam net voor Manana sʼn uitgelees is.

Manana is vroeër skuldig bevind nadat hy twee vroue by ʼn Johannesburgse nagklub aangerand het. Twee maande gelede het Christine Wiro, Manana se huishulp, ook aanrandingsaanklagte teen hom aanhangig gemaak.

Kort daarna het ʼn klankopname aan die lig gekom waarin Manana se stem na bewering gehoor kan word waar hy Wiro R100 000 aanbied om die aanklag teen hom te laat vaar. Die saak moet nog aangehoor word.

Nadat die NUK aan afgevaardigdes voorgestel is, was pres. Cyril Ramaphosa aan die woord. Hy het in sy toespraak gesê die ANC moet wegdoen met hekwagtery en moet lede toelaat om hulle voorkeur-leiers te kies.

“Laat afgevaardigdes toe om hul leiers vir die ANC te kies. Soos ek deur die land reis, vertel comrades my hulle wens leiers wil hulle toelaat om te kies en nie by hul keuses inmeng nie,” het Ramaphosa onder luide applous gesê.

“Sommige in die ANC Jeugliga vra my om asseblief jong mense toe te laat om hul eie leierskap te kies.”

Hy het ʼn beroep op afgevaardigdes gedoen om by die konferensie te verenig. “Dit is belangrik dat ons eenheid omarm. Enigiets wat nie eenheid is nie, verswak die ANC. Die publiek raak al meer ontvanklik vir ons boodskap van eenheid en hernuwing. Hulle stap weg van ons die oomblik wanneer hulle onenigheid onder ons sien.”

Ramaphosa het gesê ná afloop van die wedywering tussen hom en Dlamini-Zuma vir die presidentskap van die regerende party, werk hulle nou hand aan hand “as broer en suster in ons werk” saam.

“Ons sit langs mekaar in kabinetvergaderings as broer en suster. En hou styf hande vas onder die tafel,” het hy gesê en die afgevaardigdes laat skaterlag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alida ·

Ag shame CR wat weet hierdie rebelse jeug van leiers kies laat lees jou kop.

Ella ·

Die Manana is n kat wat altyd op sy voete land. Hy is n vroueslaner en die ANC veroordeel dit nie. Nee hy word in die voorste gestoeltes tuisgemaak soos n groot meneer. So keur die ANC sy optrede stilswyend goed?
Ons leef in n wereld met verdraaide waardes: wat eens verkeerd was is nou reg en andersom.
Ek is bly die teenwoordiges het hom uitgejou. Hy verdien dit.
Die ANC moet hul huis in orde kry en van die ontslae raak wat slegte name het maar dalk bly niemand oor…..

muva ·

lede van die anc hou graag die emansipasie van vroue voor. maar vroue, kinders en diere beteken niks vir hulle

Snowball ·

Vir seker, as jy die staatskapers, onbevoegdes, transito-rowers, vroueslaners, en korruptes, wat almal hande onder die tafel het, verwyder, bly net die ANC se voorvadergeeste oor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.