Manana doen regstappe ná aanrandingsklag

Mduduzi Manana buite die Randburg-landdroshof (13 September 2017) Foto: : Lindi Masinga / ANA

Mduduzi Manana, voormalige adjunkminister van hoër onderwys, het Maandag in ʼn verklaring gesê hy sal regstappe doen teen sy huishulp nadat sy ʼn aanrandingsklag teen hom aanhangig gemaak en minder as 24 uur later die klag weer teruggetrek het.

Volgens EWN het die huishulp in haar verklaring aan die polisie beweer dat Manana haar die afgelope naweek by die trappe in sy huis in Fourways afgestamp het nadat sy die deur vir ʼn gas oopgemaak het sonder sy toestemming. Sy het die aanrandingsklag teen Manana aanhangig gemaak, maar besluit om die klag terug te trek en het die polisie gevra om nie voort te gaan met die ondersoek nie.

Dié verwikkelinge volg nadat Manana verlede jaar in die Randburg-landdroshof tot 12 maande tronkstraf of ʼn boete van R100 000 gevonnis is nadat hy drie vroue by ʼn nagklub in Johannesburg aangerand het. Hy het in Augustus verlede jaar uit sy amp as adjunkminister bedank weens dié skandaal.

Manana het Maandag gesê die jongste bewerings wat sy huishulp teen hom gemaak het, is “betreurenswaardig en kwaadwillig”. Hy meen sedert verlede jaar se aanrandingsaak teen hom, was daar “desperate pogings” om hom te diskrediteer en sy naam te beswadder.

In die verklaring identifiseer Manana sy huishulp as Catherine Wiro, ʼn Zimbabwiese vrou wat vir ʼn tydperk van net twee weke as sy huishulp gewerk het. Volgens Manana het hy Wiro reeds in die eerste week van diens gemaan om nie sommer enigiemand toegang tot die huis te gee nie aangesien dit ʼn veiligheidsrisiko vir Manana en vir haar inhou.

Manana beweer hy het vir die langnaweek einde April Mpumalanga toe gereis, terwyl Wiro huis toe is vir die naweek. “Sy het op 1 Mei teruggekeer. Op Woensdag 2 Mei het ek haar aandag daarop gevestig dat van my besittings vermis word, waaronder ʼn kamera en ʼn boks kristalglase. Sy het begin huil en gesê ek beskuldig haar van diefstal,” het Manana gesê.

Hy beweer verder dat hy Sondagoggend vir Wiro gevra het om ontbyt voor te berei vir hom en ʼn gas wat hy verwag. Terwyl Manana in die stort was, het Wiro na bewering die gas binnegelaat sonder dat Manana haar vooraf ingelig het presies wie verwag word. “Ek het me. Wiro gekonfronteer en gevra hoekom sy nie eers met my uitgeklaar het wie die gas is voordat sy net die hek vir haar oopgemaak het nie. Soos enige ander werkgewer, is dit my reg om me. Wiro aan te spreek indien sy die reëls van die huis oortree,” lui die verklaring.

Manana beweer Wiro het begin lag toe hy haar berispe. Hy het haar gevra of sy nog belangstel om by hom te werk, waarop sy glo geantwoord het: “Ek weet nie.” Hy het haar daarna gevra om die huis te verlaat. Kort daarna is die aanrandingsklag teen hom aanhangig gemaak.

“Dit is ʼn opsetlike poging van teenstanders om aanranding te gebruik as ʼn permanente stigma wat aan my moet kleef – teenstanders wat ek glo ʼn groot invloed gehad het in die [Wiro se] besluit om ʼn saak aanhangig te maak en haar toegang tot die mediagemeenskap gegee het. Ek het dit voorheen duidelik gestel: Die voorval [verlede jaar by die nagklub] waaroor ek skuld beken het, was jammerlik en onnodig, dermate dat dit my my werk gekos het en daarom kan ek nooit weer ʼn herhaling daarvan hê nie.”

Volgens Manana is hy bewus daarvan dat Wiro se klag teen hom teruggetrek is, maar hy het wel sy regspan opdrag gegee om stappe teen die Wiro-famile te doen vir beweerde afpersing “aangesien hulle R100 000 by my geëis het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Vra ek ook. Seker maar om die nuwe minimumloon vry te spring.

Ja wohl ·

EN dan word daar vertel die blankes en boere behandel hulle huishulpe sleg .. vreemd dat die waarheid nou orals uitkom ne?

Genieve ·

Verstaan nou glat nie en wa gaan die vrou die geld kry vir afpersing?

AL ·

Stel nogal n voorbeeld deur n Zimbabwer aan te stel plaas van om sy eie kiesers wat hom in hierdie posisie plaas aan te stel.
Hulle is mos ook gou om wittes van rasisme te beskuldig en die K woord is dan ook sommer gebruik net om die klag n lekker geur te gee, dan glo almal wyd en suid hulle en word jy sommer al klaar skuldig bevind. Kry vir jou Manana.

marous ·

Dit kon dalk valse klagte van verkragting gewees het …. O nee , dit sou nie werk nie

Anoniem ·

Vat jou pakslae soos ‘n man… Jy weet mos hoe om uit te deel! ;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.