Manana: ‘Huishulp moet vir meineed ondersoek word’

Mduduzi Manana buite die Randburg-landdroshof (13 September 2017) Foto: : Lindi Masinga / ANA

Mduduzi Manana, ANC-LP en voormalige adjunkminister van hoër onderwys, het gesê hy wil hê sy huishulp, Catherine Wiro, moet ondersoek word vir meineed.

Hy het haar daarvan beskuldig dat sy vir die polisie gelieg het toe sy ʼn saak van aanranding teen hom aanhangig gemaak het.

Michael Motsoeneng-Bill, Manana se prokureur, het ʼn brief aan die Douglasdale-polisie gestuur en navraag gedoen oor die meineed-klag wat Manana Maandag teen Wiro aanhangig gemaak het. Dié brief, wat Dinsdag gestuur is, doen navraag oor die vordering wat in die ondersoek gemaak is.

“Soos julle waarskynlik weet het die kwessie wye media-aandag geniet. Al die berigte skep die indruk dat ons kliënt skuldig is aan aanranding in omstandighede waar sy weergawe nog nie in ʼn hof getoets is nie. Ons kliënt is daarom gretig om sy dag in die hof te kry en wil versoek dat die kwessie deur die polisie opgevolg word sodat ons kliënt se weergawe van die gebeure in die hof getoets kan word,” lui die brief.

Motsoeneng-Bill het bevestig dat hy die brief aan die polisie gestuur het.

Manana het gesê die meineed-aantygings kan gerugsteun word deur ʼn getuie wat ʼn gas in sy huis was ten tyde van die beweerde aanranding.

Maroela Media het vroeër berig Wiro het vroeër vandeesmaand ʼn klag van aanranding teen Manana aanhangig gemaak nadat sy beweer het hy het haar by die trappe in sy huis in Fourways afgestamp nadat sy sonder toestemming die deur vir ʼn gas oopgemaak het. Sy het minder as 24 uur later die klag teruggetrek en beweer nou sy het dit gedoen omdat Manana haar R100 000 aangebied het om die klag te laat vaar en sy glo vir haar veiligheid gevrees het. Sy het aan die polisie gesê dat Manana haar voorheen verbaal mishandel het, haar lang ure laat werk het en gedreig het dat hy haar terug na Zimbabwe, haar geboorteland, sal laat deporteer.

Manana ontken dit en beweer Wiro het hom afgepers om R100 000 aan haar te betaal. Hy ontken ook dat hy haar aangerand het en beweer hy het haar slegs berispe omdat sy “nie sy huisreëls nagekom het nie”.

Aantygings van afpersing het aan die lig gekom ná ʼn stemopname waarin Manana glo gehoor kan word dat hy haar R100 000 sal betaal om die saak te laat vaar. Manana ontken dat hy haar aangerand het of vir haar kontant aangebied het. Hy het gesê Wiro het hom gevra om haar te betaal om die saak te laat vaat.

Motsoeneng-Bill wou nie kommentaar lewer op ʼn vraag of sy kliënt die afpersingsaak laat vaar het of nie.

In die lig van die toenemende voorvalle van mishandeling van vroue en kinders het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sedertdien geweier om die polisie toe te laat om die aanrandingsklag te laat vaar en is ondersoekers opdrag gegee om voort te gaan met die ondersoek.

Dié saak kom slegs ʼn paar maande nadat Manana skuldig bevind is deur die Randburg-landdroshof dat hy drie vroue by ʼn Johannesburgse kuierplek in 2017 aangerand het. Hy het ná dié voorval uit sy pos as adjunkminister van hoër onderwys bedank.

Die DA het Maandag klagte van afpersing en korrupsie teen Manana gelê na aanleiding van die stemopname.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

sofie ·

ag asseblief! is iemand nou bereid om saam met hom te lieg? laat albei aan n leuenverklikker gekoppel getuig.

Cherokee ·

Leuenverklikker se uitslag word nie aanvaar in Suid Afrikaanse howe nie (waarskynlik) omdat dit nie waterdig is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.