Manana ondergaan terapie ná aanranding

Mduduzi Manana buite die Randburg-landdroshof (13 September 2017) Foto: : Lindi Masinga / ANA

Die voormalige adjunkminister van hoër onderwys, Mduduzi Manana, het Woensdag gesê hy ondergaan terapie, terwyl hy buite die Randburg-landdroshof om verskoning gevra nadat hy drie vroue aangerand het.

“Hierdie tipe optrede moet by my eindig. Ek het ʼn fout gemaak en verantwoordelikheid aanvaar, dis wat ʼn leier doen,” het hy aan studente buite die hof, wat daar was om hom te ondersteun, gesê.

Manana (34) het vroeër skuld beken op drie aanklagte van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig.

Foto’s van Mandisa Duma se gesig en ʼn video waar sy deur Manana by Cubana in Fourways, Johannesburg aangerand word, is verlede week wyd op sosiale media versprei. Haar vriende, Thina Mopipa en Noluthando Mahlaba, is ook dieselfde aand deur Manana aangerand.

Landdros Ramsamy Reddy wou vroeër by Manana weet of hy die klagtes teen hom gehoor het. “Ja, ek pleit skuldig,” het Manana aan die hof gesê.

In ʼn verklaring, wat deur Michael Motswaneng Bill, vir Manana, aan die hof voorgelees is, het die politikus gesê die drie vroue het by hom en sy vriende aangesluit by hul tafel in die nagklub toe hulle begin stry het. Een van die vroue het ʼn video van hom begin neem.

Manana het gesê Mahlaba het gesê, “wie dink jy is jy s’tabane [neerhalende term vir ‘gay’]”, nadat hy wou weet wie die drie vroue uitgenooi het om by hulle aan te sluit. In hierdie stadium het hy haar geklap en grond toe gedruk. ʼn Bakleiery het begin en hy het ook Duma en Mopipa aangerand.

Reddy het gesê die hof is tevrede en Manana is skuldig bevind.

Staatsaanklaer Anne-Marie Smith het uitstel versoek vir getuies se impakverslae en ʼn verslag van korrektiewe toesig wat tydens die vonnisverrigtinge gebruik kan word.

Manana is tans vry op borgtog van R5 000.

Hy moet op 7 November weer in die hof verskyn.

Lees alle vorige berigte oor Mduduzi Manana op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Adam ·

Wsp, hy is inderdaad ‘n slagoffer: ‘n slagoffer van te veel mag, status, geld, drank en te min selfbeheersing en goeie oordeel.

Tersia ·

Ek wonder of hy sy vrou ook ( as hy getroud is) ook slaan. Dit is iets wat nie maklik afgeleer word nie. Vra nou groot omverskoning maar doen dit weer en weer. Suit hom toe saam met antie Grace dan kan hulle mekaar uitsorteer. Altwee ewe vinnig met die humeer.

Domvraag ·

Dis wat n leier doen soos hy self sê en hy rand drie vroue aan en omdat die getuienis verdoemend teen hom is, ondergaan hy nou terapie sodat dit as versagtende omstandighede aangevoer kan word. Wonder of hy nou eers uitgevind het dat hy n vroueslaner is?

christa ·

Hoekom so eensydig wees. Was die vrou onskuldig? Ek keer nie geslanery goed nie maar hoekom altyd die man die sondebok maak. Moet die man altyd die minste wees? Vroue wil die man se wereld betree maar mag nie dieooreenkomstig behandel word nie. Hulle wil alles na hulle sin he.

sies ·

dus voel Christa en griet dis geregverdig as n man n vrou slaan,? het manama en kie nie eerste met die tonge gegesel nie? ek wonder griet en Christa se mans weet hoe hulle oor die sakie voel.

Griet ·

Christa – ek stem heelhartig saam met jou. Dit is nie te sê jy as vrou kan jou mond uitspoel oor mans of hulle aanvat in die openbaar nie en dan help skree as jy jou eie medisyne terugkry nie. It takes two to tango! En hulle het hom erg beledig. Daardie vrouens skuil agter “aanranding” en hulle het definitief daarvoor gesoek. Maar, die drank het gevloei en dit was ‘n oor-en-weer moeilikheidsoekery

Aletha Carstens ·

Ag sies tog. Die arme man wat so “geboelie” is. Kan die vyf KFC mans ook berading kry.

adriana ·

Word gebopre met die geen. Kan dit nie verwyder nie – al doen jy wat ook al.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.