Manana se medebeskuldigdes hoor binnekort hul lot

Jameson Mawila, Oscar Thovhakale, Cyril Madonsela en Thulani Mdaka by die Randburg-landdroshof (16 November 2017) Foto: Lindi Masinga/ANA

Mduduzi Manana, voormalige adjunkminister, se twee medebeskuldigdes het Donderdag in die Randburg-landdroshof verskyn.

Cyril Madonsela (35) en Thulani Mdaka (42) sal aan die einde van hierdie maand gevonnis word nadat die saak teen hulle uitgestel is. Hulle staan tereg op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hulle Mandisa Duma en Noluthando Mahlaba in Augustus by Cubana-restaurant in Fourways aangerand het.

Staatsaanklaer Yusuf Baba het aan landdros Saras Naidoo gesê dit maak nie sin dat Madonsela en Mdaka gesê het hulle is verantwoordelik vir hul gesinne, maar kon nie wegstap van die twee vroue af nie. “Ons moet vroue respekteer vir wie hulle is; die doel van die vonnisoplegging is om ʼn sterk boodskap te stuur,” het Baba gesê. “Stuur ons ʼn boodskap uit dat vroue slaansakke is net omdat ek onder die invloed was?”

Die hof het vroeër gehoor dat Madonsela en Mdaka geen vorige skuldigbevindings het nie.

Jameson Mawila, vir Madonsela, het ʼn verslag aan die hof voorgehou waarin sy kliënt se familielede en die ma van sy kind gesê het hulle is geskok deur sy gedrag, aangesien hy ʼn “stil” persoon is.

Madonsela het gesê hy drink net per geleentheid alkohol en hy was besope die aand van 6 Augustus by Cubana.

Mdaka se prokureur, Oscar Thovhakale, het sy kliënt se beëdigde verklaring voorgehou wat sê hy was onder die invloed van alkohol, maar in beheer van sy optrede en dat hy nooit gewelddadig word wanneer hy onder die invloed is nie, maar dat hy eerder baie begin praat en vriendelik raak. Sy eksvroue en gesinslede het gesê hulle is teleurgesteld in sy optrede, maar staan by hom.

Mdaka het gesê hy was kwaad oor die beledigings wat Duma en Mahlaba dié aand geuiter het.

Die verdediging hou vol dat ʼn boete van R3 000 of drie maande tronkstraf, of R6 000 met ʼn opgeskorte vonnis, sal ʼn behoorlike vonnis wees vir die twee, aangesien Manana reeds beveel is om vergoeding aan die vroue te betaal.

Manana, voormalige adjunkminister van hoër onderwys, is vroeër gevonnis om ʼn boete van R100 000 te betaal (of tronkstraf vir 12 maande) met 500 uur gemeenskapsdiens nadat hy die vroue aangerand het.

Die proefbeampte Yolanda Matikinca het gesê korrektiewe toesig sal gepas wees, maar Mdaka toon nie beheersde gedrag nie, so ʼn beradingsprogram sal voldoende wees.

Die saak is tot 27 November uitgestel vir die vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.