Mandela-dag: Jordan en ander kankerlyertjies by hospitaal bederf

Jordan met sy ballondiertjie. Foto: Verskaf

Jordan met sy ballondiertjie. Foto: Verskaf

Studente van Tukkies het Vrydag, in samewerking met McDonald’s as deel van die Mandela-dag-inisiatief, pasiënte in die pediatriese onkologie-eenheid van die Unitas-hospitaal gaan bederf.

Jordan Pelser is een van die pasiëntjies wat saam met sy maatjies bederf is met ʼn kinderpartytjie. , Dié driejarige leukemielyer het in die harte van mense dwarsoor die land ingekruip weens sy brawe stryd teen kanker.

Jordan se ma, Yolandi, het Vrydag aan Maroela Media gesê die kinders het die 67 minute vir liefdadigheid terdeë geniet. “ʼn Nar het hulle kom besoek en het kulkunstoertjies gedoen. Hy het ook ballondiertjies vir die kinders gemaak. McDonald’s het gesorg dat almal speelgoed kry,” het Yolandi gesê. “Jordan het in ʼn stadium gelê soos hy lag. Die nar het ook vir die kinders wat in isolasie behandel word, gaan opkikker. Self kinders van die Childhood Cancer Founda­tion (Choc)-huis is na die hospitaal gebring om in die pret te deel.”

Jordan is vanjaar in Maart met Burkitt-leukemie gediagnoseer. Dit veroorsaak dat te veel witbloedselle in die bloed en beenmurg vorm. Hy is sedertdien in en uit die hospitaal om chemoterapie, bloed- en bloedplaatjie-oorplasings te ontvang.

Yolandi, aanvanklik van Zeerust in Noordwes, het intussen na Pretoria verhuis om nader aan die hospitaal te wees wanneer Jordan siek word. “Weens sy siekte en behandeling is hy baie vatbaar vir enige siekte. Jordan het op 18 Mei by die dood omgedraai en moes in daardie tyd nagenoeg nege weke lank in die hospitaal spandeer.”jordan maats

Yolandi het ʼn Facebook-blad oor haar seun se dapper stryd begin en wil daarmee bewusmaking skep vir kinders met kindersiektes. “Jordan se lewe is gered omdat hy vroeg genoeg gediagnoseer is en die regte behandeling gekry het. Die reis gaan oor meer as net Jordan. Ons wil bewusmaking by mense skep sodat hulle na die regte tekens kan oplet as hul kinders siek word. Baie kinders sterf weens kanker en dan het die ouers nie eens geweet hul kinders het kanker gehad nie. Ons wil óók bewusmaking skep dat  mense gereeld bloed en bloedplaatjies skenk, want hierdie kinders het dit broodnodig,” het sy bygevoeg.

ʼn Trust is ook intussen vir Jordan gestig om te help om sy mediese onkoste te dek.

Klik hier om sy Facebook-blad te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trippie ·

My hart gaan uit na veral sulke klein kindertjies wat die stryd stry met kanker.

Vir my as volwassene was die chemo aaklig, ek kan nie eers dink hoe sulke kindertjies moet voel daarna nie.

Sterkte aan jou klein Jordan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.