Mandela-dag: Pretoria se bekendes vier 67 minute van lewe

VierLewe-02 (Medium)

Breyton Paulse en Willem Botha was twee van die bekendes wat Vrydag aan GrootFM se Mandela-dag uitdaging deelgeneem het. Foto’s: Burger Meyer.

ʼn Video en galery van foto’s volg ander aan die berig.

Verskeie bekendes van Pretoria het Vrydag 67 minute van hulle tyd afgestaan en ʼn reeks oefeninge gedoen om só geld in te samel vir Jumping Kids, ʼn organisasie wat prostese vir kinders maak.

Willem Botha, Dewald Wasserfall, Monique, Breyten Paulse, Lee Scott en Pieter Koen was ʼn paar van die bekendes wat om die beurt verskillende soorte oefeninge om ʼn baan in The Grove-winkelsentrum in Equestria, Pretoria gedoen het. Die radiostasie GrootFM het die geleentheid aangebied. Die bekendes moes onder andere touspring, roei, fietstrap en ʼn reeks van maagspieroefeninge vir 13 minute lank doen om die uitdaging te voltooi.

“Madiba het ʼn wonderlike nalatenskap, maar ʼn mens kan so maklik vasval en net dit wat verby is, vier,” het Etienne Piek, GrootFM se stasiebestuurder, gesê. “Die een ding wat die oud staatshoof gedoen het, was om ons te laat besef ons moet elke geleentheid aangryp om ʼn verskil te maak. Ons by GrootFM weet daar is soveel mense wat net daardie ekstra hupstootjie in die lewe nodig het sodat hulle opnuut kan besef die lewe is die moeite werd en ons kan hulle help.”

Volgens Johan Snyders, stigter van Jumping Kids, is daar ʼn waglys van tussen drie en vyf jaar by staatshospitale vir prostese. Boonop is hierdie prostese ook duur om te maak en moet dit gereeld vervang en onderhou word soos ʼn kind groei en speel. “As jy nie kan loop nie, kan iets eenvoudig soos om skool toe te gaan ʼn uitdaging word. ʼn Mens kan nie ʼn prys plaas op iets soos mobiliteit nie,” het Snyders gesê.

GrootFM het teen middagete reeds meer R69 000 vir die organisasie ingesamel nadat hulle ʼn doelwit van R67 000 vir die dag gestel het. Tussen al die sweet en glimlagte, en dikwels ook ʼn pyn afhangende van hoe fiks ʼn mens is, was almal dit eens dat liefdadigheid iets is wat nie net beperk is tot een dag in ʼn jaar nie.

“Elke geleentheid wat jy kry om ʼn verskil te maak moet aangegryp word, want dit raak die mense om jou. ʼn Mens sien dalk nie dadelik die uitwerking van jou daad nie, maar ons wat reeds ʼn paar jaar by ʼn liefdadigheidsorganisasie werk, weet wat die langtermyn effek hiervan is. Dit is iets wat geld nie altyd kan koop nie,” het Snyders gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre Groenewald ·

Ek kan ongelukkig nie saam met julle stem oor die aangeleentheid van Mandela dag. Die wereld en Mandela het julle erg mislei. hy was “n komminus tot sy dood hy het liedtjies saam met die skares gesing om die blankes te moor. KYK YOU TUBE! Dis my opinie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.