Mandela-fondse nié misbruik, sê ANC

geld 2Die ANC het Dinsdag ontken dat staatsgeld, wat bedoel was vir die gedenkdiens en begrafnis van oudpresident Nelson Mandela, misbruik is.

“Ons verwerp die aanhoudende insinuasie deur sommige koerante dat die ANC-regering blatant finansiële prosedures en wette geïgnoreer het toe dienste vir ons oudpresident se begrafnis aangeskaf is,” het Mlibo Qoboshiyane, woordvoerder van die ANC se provinsiale sekretariaat in die Oos-Kaap, in ʼn verklaring gesê.

Die Sunday Times het berig dat miljoene rand se staatsgeld wat op Mandela se begrafnis spandeer is, aan sekere verskaffers uitbetaal is sonder amptelike goedkeuring. Die koerant berig ook dat van die geld gebruik is vir die ANC se verskiesingsveldtog.

Die koerant het verder berig oor die uitslag van ‘n forensiese verslag, wat ook aan die Valke oorhandig is. Volgens dié verslag is R22 miljoen wat vir die begrafnis gebruik is, insluitend die koste van T-hemde, kos en vervoer, onregmatig deur die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie uitbetaal is.

Daar is glo ook ʼn verdere R55 miljoen wat spandeer is, maar wat nie binne die omvang van die ondersoek was nie, en die bedrae kan dus selfs hoër wees.

Die Oos-Kaapse tesourie het na bewering R250 000 in Phumulo Masualle, provinsiale voorsitter, se bankrekening inbetaal, het die koerant verder berig. Dié inbetaling is glo ná vyf dae teruggetrek nadat daar vrae oor die transaksie ontstaan het.

Qoboshiyane het gesê die berig is ʼn aanval op Masualle. “Die bronne wat deur die koerante gebruik word en die poging om ʼn bespotting te maak van ons provinsiale voorsitter, is klaarblyklik desperate opportunisme,” het hy gesê.

Hy het gesê enigste transaksies wat in Masualle se persoonlike rekening plaasgevind het, is later onttrek en weer in ‘n regeringsbankrekening oorbetaal, en slegs R1 088 is vir amptelike sake gebruik. “Ouditeure wat die aanwend van fondse nagaan sal hiervan kan getuig.”

Hy sê die regering het bestaande prosesse en instansies wat bedrog, korrupsie, en die misbruik van staatsgeld ondersoek. “Ons maak staat op hierdie prosesse en instansies, en nie een of ander onbekende ‘bron’ in die media wat nie sy of haar identiteit wil bekend maak, sodat die aantygings kan ondersoek word nie.”

Qoboshiyane het gesê redakteure is “oningelig” en word toegerus met “bevooroordeelde en gemanipuleerde inligting” wat deur individue, wat nie hul eie belang bekend maak nie, voorgehou word. Hy het redakteurs aangeraai om versigtig te wees en die aard van die inligting wat hulle ontvang, te verifieer.

Hy sê die staat ondersoek die beweerde bedrog en versoek ​​dat enigiemand met inligting oor die misbruik van fondse dit by wetstoepassers sal aanmeld. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.