Mandela-kleinseun terug in hof vir verkragtingsaak

Argieffoto

Argieffoto

Die kleinseun van voormalige pres. Nelson Mandela, wat teregstaan op ʼn aanklag van verkragting, sal Dinsdag weer in die Johannesburg-landdroshof verskyn.

Die borgtogaansoek van die 24-jarige verdagte, wie se naam nie bekendgemaak kan word voordat hy gepleit het nie, is Vrydag uitgestel. Sy regsverteenwoordiger het vier verklarings aan landdros Pieter du Plessis oorhandig om sy kliënt se borgtogaansoek te ondersteun.

Du Plessis het die verklaring in die hof gelees en genoem dat nog ʼn saak vroeër vanjaar teen die verdagte aanhangig gemaak is.

In sy verklaring beweer die kleinseun die klaer was gewillig om seks te hê. Die klaer se ouderdom is ook gedurende Vrydag se verrigtinge bevraagteken.

Die verdagte se regsverteenwoordiger het gesê die klaer se Facebook-profiel dui aan dat sy in 1999 gebore is, maar dat sy aan die kelner by die restaurant gesê het sy is 18 jaar oud. Du Plessis het geantwoord dat baie goed wat op Facebook gepubliseer word nie waar is nie en het versoek dat die klaer se ID-boek Dinsdag na die hof gebring word. Haar ouderdom kan die skedule van die aanklag teen die verdagte bepaal.

Gauteng-polisie het Vrydag gesê ʼn 24-jarige man word aangekla van die beweerde verkragting van ʼn 15-jarige meisie. Tans staan hy tereg op ʼn skedule 6-aanklag, wat beteken dat hy buitengewone omstandighede moet bewys waarom hy op borgtog vrygelaat moet word.

Die beweerde verkragting het op 7 Augustus in ʼn Johannesburgse restaurant plaasgevind toe die verdagte die meisie na die badkamer gevolg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alida ·

Genade mense noem die man op sy naam. Hoekom word daar telkens verwys na Mandela se kleinseun. Word asb wakker !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.