Mandela se hasie verwyder

Foto: bbc.co.uk

Foto: bbc.co.uk

ʼn Brons hasie wat as ʼn kunstenaarshandtekening in die oor van die standbeeld van voormalige president Nelson Mandela geplaas is, is verwyder.

“Ná onderhandelinge met die departement van kuns en kultuur en Koketso Growth is daar ooreengekom dat die hasie verwyder moet word, en dit is gedoen,” het Mogomotsi Mogodiri, woordvoerder van minister Paul Mashatile, Donderdag aan Sapa gesê.

Koketso Growth is die maatskappy wat deur die departement opdrag ontvang het om die nege meter hoë standbeeld van Mandela by die Uniegebou op te rig.

“Die departement het Dali Tambo deur sy maatskappy opdrag gegee om die standbeeld op te rig, en ʼn hasie is ongelukkig in die oor geplaas,” het Mogodiri bygevoeg.

Andre Prinsloo en Ruhan Janse van Vuuren, die beeldhouers, het in Januarie om verskoning gevra en gesê die hasie is ʼn klein “handelsmerk” van hulle werk. Die departement het hul verskoning aanvaar en gesê hul bedoeling was eerbaar.

Die departement kon nie Donderdag sê wanneer die hasie verwyder is of waarheen dit geneem is nie. “Mnr. Dali Tambo sal weet waar die hasie nou is en wat hy daarmee gedoen het,” het Mogodiri gesê. Hy het bevestig dat die departement nie reageer het op ʼn versoek deur die diereregtegroep PETA om die hasie aan te neem nie. “Die organisasie se versoek is aan die verkeerde persoon gerig,” het Mogodiri verduidelik. “Die hasie behoort nie aan die departement nie. Dit is nie ons eiendom nie.”

PETA het Mashatile in Januarie genader en versoek om die hasie aan te neem sodra dit verwyder is. Die groep wou die miniatuurstandbeeldjie gebruik tydens bewusmaking oor talle hase en ander diere wat vir hulle pelse geslag word.

Die standbeeld is op 16 Desember 2013 deur pres. Jacob Zuma onthul.

Mandela is op 5 Desember 2013 by sy huis in Houghton, Johannesburg, oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Annari ·

Veil die hasie op en skenk die geld aan die Nelson Mandela Kinderfonds of aan die DBV.

Dolk ·

Ja, ek sal ook nie saam met mandela gesien wil wees nie… Dieremishandeling – om selfs ‘n brons hasie naby ‘n bomplanter te bring…

kraalmuur ·

Daai hasie was darem vir jou bly toe hy uit daai oor kon ontsnap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.