‘Mandela-stelling’ kan Trump oorhand gee in verkiesing

Joe Biden (Foto: AP Photo/Matt Rourke)

Suid-Afrika het skielik op die mees onwaarskynlike wyse ʼn potensieel belangrike faktor in die Amerikaanse presidentsverkiesing geword.

ʼn Moontlike leuenagtige stelling oor gebeure in Suid-Afrika deur die voormalige adjunkpresident, Joe Biden, behoort die laaste spyker in die doodskis te wees van sy poging om as presidentskandidaat vir die Demokratiese Party aangewys te word.

Indien hy dié stryd verloor, kan dit Trump se kanse om herverkies te word, aansienlik verbeter, meen politieke kenners.

Biden het verskeie kere verlede week tydens veldtogtoesprake beweer dat hy in 1977 in Suid-Afrika deur die apartheidsregime in hegtenis geneem is, omdat hy tydens ‘n destydse besoek aan die land hom beywer het om Nelson Mandela vrygelaat te kry.

Biden was in 1977 ‘n Demokratiese lid van die Amerikaanse Senaat as verteenwoordiger van die deelstaat Delaware. Luidens Biden se toesprake het die inhegtenisneming in Soweto plaasgevind.

Dit lyk egter tans asof Biden lieg oor ‘n belangrike kwessie, want hoewel verskeie instellings nou deur alle tersaaklike rekords en koerante gaan, meen talle indertydse betrokkenes wat nog lewe dat daar geen arrestasie was nie.

Oudminister Barend du Plessis, wat destyds ‘n senior parlementslid van die regerende Nasionale Party was, sê dis bog. Die Wes-Kaapse oudpremier Helen Zille, wat in 1977 een van die land se voorste politieke joernaliste was, sê ook dit het nie gebeur nie.

Destyds was dit baie ongewoon vir Amerikaanse politici – buiten die adjunkminister belas met Afrika – om die apartheidstaat te besoek. Een van die vooraanstaande Amerikaanse politici wat wel in 1977 Suid-Afrika besoek het, was die stryder vir swart burgerregte, Andrew Young. Hy leef nog, en bly ‘n groot kampvegter vir die Demokratiese Party, maar sê ook daar was geen arrestasie van Biden nie.

As daar een persoon was wat geweldige probleme sou moes oplos indien ‘n Amerikaanse senator in 1977 in Suid-Afrika in hegtenis geneem sou wees, was dit die destydse minister van buitelandse sake, Pik Botha. Botha het omvattend boek gehou en in detail geskryf oor alles wat hy beleef het (ook oor Young se besoek in 1977), maar nêrens – ook nie tydens detailgesprekke met minstens een joernalistieke vertroueling – het hy een keer daarna verwys nie.

In 1977, met John Vorster aan bewind in Suid-Afrika en Jimmy Carter aan bewind in die VSA en die Soweto-opstande steeds vars in almal se geheue, sou die inhegtenisneming van ‘n Amerikaanse senator een van die belangrikste gebeure van die jaar, met wêreldwye voorbladdekking gewees het.

Dit was nie, want dit het nie gebeur nie. Om die waarheid te sê, weet enigeen wat Suid-Afrika se geskiedenis baie goed ken, dat geen besoekende Amerikaanse senator al ooit in Suid-Afrika in hegtenis geneem is nie.

Biden was maande lank die gunsteling om op 10 November teen pres. Donald Trump van die Republikeinse Party te staan te kom. Hy loop tans steeds landwyd voor in meningspeilings oor die Demokratiese kandidate. In ‘n groot mate lê sy voordeel daarin dat hy volgens die meningspeilings verreweg die gunstelingkandidaat onder swart kiesers is (soos die Republikeine is al die kandidate wat nog in die Demokratiese wedloop was, wit mense).

‘n Leuen oor iets wat spesifiek by swart Amerikaanse kiesers soveel trefkrag het as die stryd teen apartheid, en oor iemand wat in die VSA so hoog aangeslaan word as Mandela, behoort min of meer die doodskoot vir Biden se veldtog te wees. Die kwessie kry dan ook tans wye dekking in alle vooraanstaande Amerikaanse media.

Biden se uitslae in die drie Demokratiese voorverkiesings tot dusver (die deelstate Iowa, New Hampshire en Nevada) was flouer as verwag, maar al drie daardie deelstate het baie min swart kiesers. Die volgende deelstaat met ‘n voorverkiesing, Suid-Carolina, het baie swart kiesers wat in die Demokratiese voorverkiesing stem.

Waarnemers meen dis juis om sy swart steun aan te vuur en te maksimaliseer dat Biden sy arrestasie-storie vertel het, maar nou kan hy daarvan beskuldig word dat hy ‘n opportunistiese leuenaar is wat swart steun met onwaarhede probeer werf.

Indien die Suid-Afrikaanse leuen Biden se veldtog kelder, kan dit ook ‘n wyer gevolg hê. Navorsing toon Biden is die enigste Demokraat wat swart kiesers opgewonde maak.

As dit so bly, kan hierdie onverwagse Suid-Afrikaanse tafereel vir Trump baie help. Tussen 92% en 96% van swart Amerikaanse kiesers stem reeds sedert 1964 klokslag vir die Demokrate, met die Republikeine tussen 4% en 8%.

As swart kiesers dus in kleiner getalle gaan stem as wat hulle sedert 1992 gedoen het, kan die Suid-Afrikaanse oomblik een van die mees bepalende vir die uitslag wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

En hy was in 1977 van alle plekke in Soweto! Ek neem aan hy was ‘under cover’ en sonder ‘n lyfwag. Joeg, en wat dink ons Maroela rubriekskrywers en nuuskommentators hiervan, dit nou ook dat Trump se kanse die hoogte inskiet?

Jacobus

So ‘n karnallie!
Hy en sy vriendin (Hillary) moet maar stil-stil in die mis verdwyn.

Drikus

En hy was maar ‘n bogsnuiter van 35 jaar oud. Sy broekie sou gebewe het net aan die gedagte om na Suid-Afrika te reis, want “… en hoor jy die magtige dreuning, oor die veld kom dit wyd gesweef…” het die hele wêreld laat bewe. Sies tog hy’t seker maar ‘n slegte droom gehad.

Maria M S

BAIE DANKIE Mnr Biden, jy weet maar net nie watse groot guns jy Mnr Trump bewys nie!

Smurf

Hy klink amper soos malema wat kiesers met leuns koop.