Mandla Mandela stel beeldpoetser aan

Mandla Mandela

Mandla Mandela

Oudpresident Nelson Mandela se kleinseun, Mandla, het ‘n publisiteitsbeampte aangestel om te help om sy openbare beeld as “die amptelike gesig van die Mandela-handelsmerk” te verbeter, berig City Press.

Sisanda Gqirana, ‘n ou vriend van Mandla en sy nuwe publisiteitsbeampte, het aan die koerant gesê Mandla is bewus van sy foute. “Kyk die plan is om mense se persepsie van hom te verander,” het Gqirana aan die koerant gesê.

“Hier is man wat so baie goeie dinge doen maar al wat ons hoor is die negatiewe stories.” Gqirana sê al wat Mandla wil doen is om op sy oupa se nalatenskap voort te bou. Sy beweer dat Mandla misverstaan word en dat hy onder geweldige druk geplaas word deur met sy oorlede oupa vergelyk te word. “Hy is ook ‘n mens.”

Mandla het die afgelope tyd vir al die verkeerde redes die nuus gehaal. ‘n Paar maande voor sy oupa se dood het ander familielede hom hof toe gesleep nadat hy die oorskot van drie Mandelas in Qunu laat opgrawe het en weer in Mvezo laat begrawe het.

Mandla het ook die nuus gehaal oor sy egskeidingstwis met sy vervreemde vrou. Hy het ook sy jonger broer daarvan beskuldig dat hy een van sy [Mandla] se vervreemde vroue swanger gemaak het. Mandla is ook vroeër daarvan beskuldig dat hy ‘n onderwyser aangerand het.

City Press berig Mandla was egter ook betrokke by verskeie projekte in Mvezo waaronder die konstruksie van paaie, brûe en skole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sprietjie ·

Sy kan hom maar poets soos sy wil, ek het my mening oor hom en dis nie positief nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.