Mangat-moord: ‘Baasbrein’ uitgewys

Estelle Reddy (Foto: Maroela Media)

Estelle Reddy (38), wat beskuldig word van die moord op Danie Dreyer (64), ʼn afgetrede polisiebeampte en sakeman van Pretoria, is Vrydag deur die staat as die baasbrein agter sy moord bestempel.

Reddy, Dreyer se voormalige meisie; haar vriend, Gerhardus Pienaar Papenfus; asook Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst het Vrydag weer in die Pretoriase hooggeregshof verskyn waar hulle tereg staan op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, regsverydeling, brandstigting en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die vier ontken skuld op al die aanklagte teen hulle.

Reddy het Donderdag en Vrydag emosioneel geraak tydens haar kruisondervraging deur staatsaanklaer adv. Cornelia Harmzen, toe verskeie teenstrydighede in haar oorspronklike verklaring ná haar in inhegtenisneming, en haar getuienis vandeesweek, uitgewys is.

Harmzen het dit gestel dat Reddy haar medebeskuldigdes nou uitverkoop en haarself nou as die slagoffer wil voordoen.

Reddy het haarself op 4 April 2016 by die Villieria-polisiestasie oorgegee, waarna sy die polisie gewys het waar Dreyer op 28 Maart 2016 in sy kamer in sy huis in Villieria vermoor is. Nadat sy liggaam twee dae later verwyder is, is Dreyer se kamer aan die brand gesteek. Reddy het ook uitgewys waar Dreyer se liggaam in ʼn mangat in Capital Park gestort is, langs die huis in Flowerstraat, waar Papenfus woon.

Dit het die brandweer destyds bykans vier uur geneem om Dreyer se liggaam uit die mangat te verwyder. Die liggaam is na bewering met die hulp van Papenfus, Reddy en Johnson in die mangat gegooi waarna bytsoda oor sy liggaam uitgegooi is in ʼn poging om van bewyse ontslae te raak. Sy liggaam is twee dae lank in die basis van sy bed in sy huis versteek en het vyf dae lank in die bytsoda gelê.

Die beskuldigdes Donderdag in die hof. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

“Wat het jou uiteindelik laat besluit om die moord by die polisie aan te meld?” wou Harmzen weet nadat Reddy voorgehou het sy het vir haar kind en haar eie lewe gevrees nadat Papenfus haar met die dood gedreig het.

“Ek het uiteindelik die geleentheid gehad, my kind was veilig en ek kon nie meer die stres hanteer nie,” het Reddy geantwoord.

“Ek stel dit aan u, u is slegs na die polisie toe aangesien u geweet het die oorledene se seun gaan hom as vermis aanmeld en dan gaan die polisie agterkom u het sy bankkaart gebruik en sy kamer aan die brand gesteek. U verkoop die medebeskuldigdes uit om die slagoffer te speel,” het Harmzen dit gestel.

Reddy het teruggeantwoord sy het slegs Papenfus se instruksies gevolg, was in ʼn beswyming van die skok en het nooit genoeg geleentheid gehad om die polisie in kennis te stel nie, aangesien Papenfus die heeltyd by haar was.

“Die Maandagoggend (4 April 2016) het mnr. Papenfus gesê ek moet twee mense huur om [Dreyer se] kamer skoon te maak. Ek het twee mense gaan kry en besef dit gaan nagenoeg vier ure neem, en ek het besef ek het nou die tyd om te vlug,” het Reddy gesê.

“Ek het intussen ʼn nuwe selfoon gekry wat Papenfus nie sal kan laat opspoor nie, genoeg geld gehad en my kind was veilig. Ek is daarna deur ʼn kennis en my biologiese ma aangeraai om dadelik polisie toe te gaan. Ek was moeg vir weghardloop en om die heeltyd bang te wees en nie te weet wat volgende gaan gebeur of hoe dinge gaan uitwerk nie.”

Harmzen het dit gestel dat Reddy die baasbrein agter die moord was.

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

“Ek stel dit aan u, u is skuldig op al die aanklagtes en was aktief betrokke by die beplanning en sameswering van die moord,” het Harmzen gesê.

“Dit is nie die waarheid nie. As ek dit sou beplan, sou dit heeltemal anders gedoen gewees het. Ek sou nooit bedoel het om Danie of sy familie enige leed of hartseer aan te doen, of hulle wou laat wonder wat met hom gebeur het nie. Ek sou wou gehad het dat hy ʼn lang en gesonde lewe lei,” het sy gesê terwyl haar stem van emosie gebreek het.

Die hof het gehoor die plan was om te sê Dreyer is Bosveld toe. Papenfus beweer dit was om hulle genoeg tyd te gun om vir Reddy nuwe blyplek te soek, aangesien Reddy haweloos sou wees ná Dreyer ʼn “hartaanval” gekry het tydens ʼn onderonsie by sy huis tussen Johnson en Furst. Reddy beweer egter Papenfus, Johnson en Furst het Dreyer op die noodlottige dag gaan beroof.

Die staat voer aan dat Reddy toegang tot Dreyer se bankkaarte en pinkodes gehad het en gedink het dat sy geregtig is op sy boedel omdat sy lank saam met hom gebly het. Papenfus het ook getuig Reddy was van plan om die helfte van Dreyer se onderneming, Jakaranda Grafstene, oor te neem en te bestuur.

Dreyer en Reddy het voorheen uitgegaan voor sy met ʼn man van Laudium, en die pa van haar kind, getrou het. Sy het later egter teruggetrek na Dreyer toe omdat sy van haar man wou skei omdat dié glo aan dwelms verslaaf was. Terwyl sy by Dreyer aan huis gebly het, het sy in Februarie 2014 begin om Papenfus te sien. Reddy en Papenfus het genoem hulle was seksueel aktief, by Dreyer en Papenfus se huis.

Reddy het voordat haar kruisondervraging afgehandel is, getuig sy was nie bewus dat Dreyer vermoor sou word toe sy die aand na ʼn verlowingspartytjie in Laudium gegaan het en daar oorgeslaap het nie.

“Ek het eers uitgevind toe ek na die huis teruggekeer het en hoor mnr. Papenfus vra my vir Danie se pinkode. Ek wens ek het vroeër polisie toe gegaan of kon iets doen om dit keer,” het sy gesê.

Papenfus is daarna ingesweer om ter sy verdediging te getuig.

Die verhoor duur voort.

Lees die vorige berigte oor die Mangat-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

Hoe kon papenfus (weier om ‘n hoofletter te gebruik) ter verdediging getuig? Hy het geen verdediging nie. Hy kon slegs ter beswaddering… nee, ter openbaarmaking verder getuig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.