Mangat-moord: ‘Dit was ʼn bose daad’

Estelle Reddy, Gerhard Papenfus en Kevin Johnson in die beskuldigdebank (22 Mei 2018). Foto: Phillip Bruwer

Nie Estelle Reddy (38) se “siek” driejarige seun of Gerhard Papenfus (44) se selferkende dwelmprobleem kon die Pretoria-hooggeregshof Dinsdag oortuig om hulle nié tot lewenslange tronkstraf te vonnis nie.

Reddy, Papenfus en nog ʼn medebeskuldigde, Kevin Johnson (31), is Maandag in die hof skuldig bevind aan die moord op Danie Dreyer (64), ʼn afgetrede polisiebeampte en sakeman van Pretoria, wat op 28 Maart 2016 in sy kamer tydens ʼn “gewelddadige aanval” in sy huis in Villieria dood is.

Ruvan Regionald Furst, die drie se medebeskuldigde, is Woensdagoggend van die verhoor verskoon nadat sy saak van die ander drie s’n geskei is weens sy gesondheidsprobleme. Hy bly in aanhouding terwyl hy waarneming ondergaan en moet weer op 17 September in die hof verskyn.

Die staat het aangevoer dat Dreyer tydens ʼn rooftog by sy huis vermoor is. Papenfus het egter aangevoer dat Dreyer ʼn hartaanval gehad het toe hy, Johnson en Furst by sy huis opgedaag het om die diere te versorg en daar ʼn onderonsie met Dreyer uitgebreek het.

Reddy, Papenfus en Johnson is skuldig bevind aan regsverydeling nadat hulle probeer het om van Dreyer se liggaam ontslae te raak deur hom in ʼn mangat naby Papenfus se huis te gooi, waarna daar bytsoda oor sy liggaam gegooi is. Dreyer se liggaam was so erg ontbind en met ʼn chemikalie gebrand dat die oorsaak van sy dood nie uitsluitlik deur ʼn nadoodse ondersoek vasgestel kon word nie. Al drie is ook skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede van Dreyer se voertuig en verskeie huisware, en diefstal van Dreyer se bankkaart.

Reddy en Papenfus is ook skuldig bevind dat hulle Dreyer se kamer aan die brand gesteek het nadat die liggaam verwyder is, in ʼn poging om van bewyse ontslae te raak.

Die hof moes omstandigheidsbewyse in ag neem wat tot die drie se skuldigbevinding gelei het. Die staat en verdediging het Dinsdag ter verswaring en versagting van die vonnis getuig.

Adv. Arno Rossouw, vir die staat, het ter verswaring van die vonnis aangevoer die moord was vooraf beplan en daar is met ʼn gemeenskaplike doel opgetree om Dreyer te beroof.

Adv. Isaac Phetoe, vir Johnson, het ter versagting van haar vonnis aangevoer Reddy het ʼn driejarige seuntjie wat van haar afhanklik is. Die seuntjie is tans in die sorg van haar skoonsuster en dié is sieklik en sal nie die seun se onderhoud kan bekostig nie. Die hof het ook gehoor die seun is gediagnoseer met ADHD en kort mediese behandeling daarvoor.

Adv. Antonie Viviers, vir Papenfus, het ter versagting van sy vonnis aangevoer Papenfus het “baie berou” oor wat gebeur het, veral oor wat hulle met Dreyer se liggaam gedoen en hoe hulle die voorval hanteer het.

Viviers het gesê die hof moet in ag neem dat Papenfus voor, ten tyde en ná Dreyer se dood op dwelms was en dat hy alkohol gebruik het wat ʼn invloed op sy optrede en denkwyse kon gehad het.

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Regter Bert Bam het daarna tydens sy vonnisoplegging gesê daar is geen beduidende of boeiende redes uitgewys oor waarom die beskuldigdes nie die normale minimum vonnisse opgelê moet word nie.

“Daar is geen bewyse voor die hof gelewer wat aandui dat die beskuldigdes enigsins berou het nie – eerder dalk spyt,” het hy gesê.

“As die beskuldigdes ware berou getoon het tydens die verhoor, sou dit ʼn beduidende invloed gehad het op sekere vonnisse. ʼn Man is in die veiligheid van sy eie huis deur drie mense vermoor. [Reddy], wat ʼn huurder was, het die oorledene se vertroue verbreek deur sy huis se sleutels aan sy moordenaars te verskaf.”

Bam het gesê buiten die motief soos moord en roof, het Reddy dalk nog ʼn verskuilde agenda gehad deur te dink sy kon aanspraak maak op sy boedel of begrafnisonderneming, Jakaranda Grafstene.

“Die beskuldigdes het nie tydens die verhoor die hof in hul vertroue geneem en presies vertel wat gebeur het nie, almal het ander weergawes voorgehou. Deur so min respek vir die oorledene se liggaam te wys, bewys [hulle] dit was ʼn bose daad, en niemand het trane daaroor gestort nie.”

Bam het Reddy en Papenfus albei tot lewenslange tronkstraf gevonnis op die aanklag van moord. Reddy en Papenfus is ook tot altesaam 53 jaar tronkstraf gevonnis in verband met die ander aanklagte. Papenfus is ook ʼn bykomende twee jaar tronkstraf opgelê op die aanklag van besit van dwelms (kristal-metamfetamien).

Johnson is skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede, diefstal en regsverydeling. Hy is vrygespreek op die aanklagte van brandstigting en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord en altesaam 28 jaar in verband met die ander aanklagte.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Al drie beskuldigdes se regsverteenwoordigers het direk ná die vonnisoplegging aansoek gedoen om verlof tot appèl teen hul kliënte se skuldigbevindings. Bam het al drie se aansoeke van die hand gewys en gesê hy is nie daarvan oortuig dat ʼn ander hof tot ʼn ander beslissing sal kom nie.

Viviers het na die verrigtinge aangedui dat hulle die appèlhof sal nader.

Lees die vorige berigte oor die Mangat-moord op Maroela Media.

Ná die vonnis het Johnson se pa, Bryan Swarts, en sy broer, Lebogang, hom emosioneel omhels en saam met hom gehuil voordat hy by die trappe afgeneem is na die hofselle toe. Foto: Phillip Bruwer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Absolute nonsense! ADHD is nie n siekte nie. Dit word met medikasie “beheer”. En wie het n 3 jarige kind gediagnoseer met ADHD???

GM ·

Ja nee kyk, daardie dokter/psigiater behoort aangevat te word. Alle driejariges het “ADHD”. Dis soos depressie, elke tweede ou word daarmee gediagnoseer. Jy sê net vir die dokter jy voel depressief, en hy skryf vir jou ‘n pilletjie voor. Min dokters doen ‘n volledige evaluasie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.