Mangat-moord: Drie hoor hul lot

Estelle Reddy, Gerhard Papenfus en Kevin Johnson in die hof (21 Mei 2018). Foto: Maroela Media

Die Pretoria-hooggeregshof het Maandag uitspraak gelewer in die verhoor wat gevolg het op die opspraakwekkende moord op Danie Dreyer (64), ʼn afgetrede polisiebeampte en sakeman van Pretoria. Dreyer is in 2016 in sy huis in Villieria dood.

Estelle Reddy, Dreyer se voormalige meisie; Gerhard Papenfus, Reddy se destydse kêrel; en Kevin Johnson is aangekla van moord, roof met verswarende omstandighede, diefstal, regsverydeling, brandstigting en die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie. Papenfus is ook aangekla van die besit van dwelms.

Regter Bert Bam het Reddy en Papenfus skuldig bevind op al die aanklagte teen hulle.

Johnson is skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede, diefstal en regsverydeling. Hy is vrygespreek op die aanklagte van brandstigting en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Bam het ʼn opsomming van die verhoor voorgelees voordat hy sy uitspraak gelewer het. Hy het in sy uitspraak gesê die hof het bevind hoewel spesialisgetuies bevind het dat die oorsaak van Dreyer se dood “onbepaalbaar” was, is Dreyer tydens ʼn “gewelddadige aanval” vermoor.

Bam het bevind dat hoewel Reddy nie ten tyde van die rooftog by Dreyer se huis was nie, sy wel met Papenfus saamgesweer het om die rooftog te beplan en ná die tyd met Dreyer se voertuig gery het,  verskeie items uit sy huis verwyder het en geld uit sy bankrekening onttrek het.

Die hof het ook bevind dat die drie met bewyse gepeuter het deur Dreyer se huis ná die moord skoon te maak en van sy liggaam ontslae te raak. Bam het gesê dit is duidelik dat Reddy, Papenfus en Johnson met ʼn gemeenskaplike doel opgetree het.

Ruvan Regionald Furst, die drie se medebeskuldigde, is Woensdagoggend van die verhoor verskoon nadat sy saak van die ander drie s’n geskei is weens sy gesondheidsprobleme. Hy bly in aanhouding terwyl hy waarneming ondergaan en moet weer op 17 September in die hof verskyn.

Die vonnisoplegging vir Reddy, Papenfus en Johnson sal later vandeesweek begin.

Maroela Media het vroeër berig Reddy het haarself op 4 April 2016 by die Villieria-polisiestasie oorgegee, waarna sy die polisie gewys het waar Dreyer op 28 Maart 2016 in sy kamer in sy huis in Villieria vermoor is. Nadat sy liggaam verwyder is, is Dreyer se kamer aan die brand gesteek. Reddy het ook uitgewys waar Dreyer se liggaam in ʼn mangat in Capital Park gestort is, langs die huis in Flowerstraat, waar Papenfus woon.

Dit het die brandweer destyds bykans vier uur geneem om Dreyer se liggaam uit die mangat te verwyder. Die liggaam is met die hulp van Papenfus, Reddy en Johnson in die mangat gegooi waarna bytsoda oor sy liggaam uitgegooi is in ʼn poging om van bewyse ontslae te raak.

Papenfus is kort nadat Dreyer se liggaam gevind is, in hegtenis geneem. Dreyer se voertuig en vuurwapen is in sy besit gevind. Daar is ook dwelms, kristal-metamfetamien, in Papenfus se besit gevind.

Johnson is op 6 April 2016 in Eersterust in hegtenis geneem. Furst is op 12 April 2016 in hegtenis geneem nadat hy hom aan die polisie oorgegee het.  Die vier is sedert hul inhegtenisneming in aanhouding in die Kgosi Mampuru II-gevangenis nadat die Pretoria-landdroshof hul borgtogaansoeke in Mei 2016 geweier het.

Die verhoor het in Februarie vanjaar begin. Dit het in die hof aan die lig gekom dat Papenfus, Johnson en Furst vir Dreyer op die dag van sy dood probeer beroof het. Hy was ʼn voormalige stoeier en het terugbaklei en Furst glo in die proses aan sy hand gebyt.

Reddy, wat tydens die voorval by ʼn verlowingspartytjie was, het in haar bekentenis aangevoer aldus Papenfus het Dreyer tydens die stoeiery ʼn hartaanval gekry. Sy het egter getuig daar was baie bloed in sy kamer. Johnson het ook getuig daar was bloed in Dreyer huis.

ʼn Nadoodse ondersoek kon egter nie die oorsaak van Dreyer se dood bepaal nie. Dreyer se liggaam is vir twee dae lank in die basis van sy bed toegedraai en versteek. Sy liggaam het vir vyf dae lank in die bytsoda in die mangat gelê voordat dit gevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet J ·

Ek hoop julle wat tans skuldig bevind is in verband met die moord op Dreyer gaan vir jare der jare uit die gemeenskap verwyder word, wonder wat het julle nou gedink om iets te bekom in die verband, wys net hoe onnosel party mense kan wees .

PIKKEWYN ·

Ek stem saam oor die onnosel deel want waar kom “die baie bloed” vandaan as jy ‘n HARTAANVAL gehad het? Het hulle regtig gedink iemand gaan daai storie glo en dat hulle gaan wegkom daarmee??
Hoop hulle word laaaank toe gesluit!!!

Ilze ·

Ek ken Dreyer se broer persoonlik en ek glo hy en die familie sal verlig wees dat dit verby is.

Wonder ·

Daar is geen bewyse vir moord nie. Die bloedplasse word genoem maar geen bewys daarvan is gelewer nie. Daar was ‘n brand in die huis en die oorledene se liggaam is in ‘n mangat gekry. Lykskending kan bewys word, dalk diefstal van oorledene se eiendom, en die besit van wapen, ammunisie en dwelms.

Ano ·

Wonder – jy kan maar wonder. Dit was moord. Finish en klaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.