Mangat-moord: Getuienis in twyfel getrek

Estelle Reddy (voor ) , Kevin Johnson en Gerhard Papenfus in die hof (16 Mei 2018) Foto: Maroela Media

Gerhardus Pienaar Papenfus wat verdink word van die moord op Danie Dreyer (64), ʼn afgetrede polisiebeampte en sakeman van Pretoria, se weergawe oor Dreyer se dood is Woensdag in twyfel getrek.

Estelle Reddy, Dreyer se voormalige meisie; Papenfus, Reddy se destydse kêrel; en Kevin Johnson het weer in die Pretoriase hooggeregshof verskyn waar hulle tereg staan op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede, regsverydeling, brandstigting en die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die drie ontken skuld op al die aanklagte teen hulle.

Ruvan Regionald Furst, hul medebeskuldigde, is Woensdagoggend van die verhoor verskoon nadat die saak geskei is weens sy gesondheidsprobleme. Hy bly in aanhouding terwyl hy waarneming ondergaan en moet weer op 17 September in die hof verskyn.

Papenfus het onder kruisondervraging volgehou dat Dreyer op 28 Maart 2016, die dag van sy dood, ʼn hartaanval gehad het toe hy, Johnson en Furst die oggend na sy huis in Villieria is om die honde en ʼn voëltjie kos te gee.

Papenfus het vroeër ter verdediging getuig oor die langnaweek wat Dreyer dood is en gesê hy, Johnson en Furst het drie dae lank alkohol en dwelms misbruik. Hy het getuig Reddy was die Sondag, 27 Maart 2016, na ʼn verlowingspartytjie in Laudium en het daar oorgeslaap. Op pad Laudium toe het sy besef sy het vergeet om vir die diere kos te gee en dat “Danie al vir vier dae slaap en hulle nie gaan kos gee nie”. Papenfus beweer Reddy het vir Johnson en Furst, wat saam gery het om Reddy te gaan aflaai, gevra om die diere kos te gaan gee en het vir Johnson haar huissleutels gegee.

Papenfus het gesê hy en sy twee medebeskuldigdes is die Maandagoggend na Dreyer se huis. Hy voer aan die agterdeur, waar die honde se bakke en die voëltjie was, was toegetrek, maar nie gesluit nie. Volgens hom het hy water in die bak gegooi en sy twee medeskuldiges opdrag gegee om die hondekos in die kombuis te gaan kry.

Dreyer het op die vreemde mans in sy huis afgekom en hulle het begin stoei. Papenfus het gesê toe hy later gaan ondersoek instel het, het Dreyer op sy maag in sy kamer gelê en Furst het sy eie vinger vasgehou. Dit het in die hof aan die lig gekom dat Dreyer tydens ʼn stoeiery Furst aan die hand gebyt het.

Papenfus voer aan hy het noodhulp op Dreyer toegepas, maar paniekerig geword toe Dreyer nie bykom nie en hy “het nie helder gedink nie”. Hy voer aan hy het nie sy selfoon by hom gehad om hulp te ontbied nie en die liggaam is in beddegoed toegedraai en daar gelos totdat hy vir Reddy kon gaan oplaai sodat sy die polisie kon ontbied. Hulle het egter besluit om die liggaam te versteek om Reddy genoeg tyd te gun om nuwe blyplek vir haar en haar seun, wat toe twee jaar oud was, te kry.

Dreyer se liggaam is vir twee dae lank in die basis van sy bed versteek, voordat hy ʼn in mangat langs Papenfus se huis in Capitalpark geskuif is en daar bytsoda oor sy liggaam gegooi is. Hy het vir vyf dae lank in die mangat gelê voordat Reddy op 4 April 2016 haarself aan die polisie oorgegee en die moordtoneel en mangat uitgewys het.

“Was dit jou bedoeling dat die oorledene se liggaam onbepaald in die mangat bly?” wou adv. Seja Rekobela, Reddy se regsverteenwoordiger, by Papenfus onder kruisondervraging weet.

“Estelle moes ons vertel wat om volgende te doen. Ek sou verkies het dat niemand daarvan geweet het nie en was onkant gevang die dag toe die polisie daar opdaag.”

Regter Bert Bam het die verrigtinge onderbreek en wou weet of Papenfus nie die reuk van ontbinding, soos ʼn polisiebeampte vroeër in die hof getuig het, geruik het nie. “Dit het vir my net soos hondestr*nt geruik en die reuk het gekom en gegaan. Dit is net die polisiebeampte wat dit geruik het,” het Papenfus geantwoord.

Adv. Isaac Phetoe, vir Johnson, het in sy kruisondervraging ʼn ander prentjie van die voorval by Dreyer se huis geskets.

“Volgens my kliënt het jy hom en Furst in Eersterust gaan oplaai en gesê julle gaan by ʼn vriend se huis dwelms gebruik. Julle het daar aangekom en Johnson het na die kombuis gegaan en was besig om die dwelms voor te berei terwyl jy en Furst na ʼn ander kamer is. Volgens my kliënt het die ‘wit man’ hom toe in die kombuis gevind en gevra wat hy daar soek. Jy het daarna ʼn koperpan gegryp en die man in ʼn kamer in gedwing en hom daarmee aangeval. My kliënt het iemand hoor skreeu,” het Phetoe gesê.

Johnson voer aan Papenfus het hom geroep om te kom help, waarna hy Dreyer in ʼn plas bloed sien lê het en Papenfus wat noodhulp op hom toe pas.

Papenfus het Johnson se weergawe ontken. Hy het gesê daar was nie ʼn plas bloed nie en hulle kon nie dwelms gebruik het nie, want hulle was juis op pad om dwelms te gaan koop.

Adv. Arno Rossouw, vir die staat, wou weet hoekom Papenfus nie ná Dreyer se dood, sy liggaam in die bed gesit het nie, “omdat dit kwansuis ʼn hartaanval was en Reddy gesê het hy het vier dae lank geslaap,” het Rossouw gesê. Papenfus het weer verduidelik hy was paniekerig.

Rossouw het dit gestel dit was omdat daar te veel bloed was wat die hele bed sou vlek. “Estelle het getuig dat jy haar ná die daad gebel en gesê het [Dreyer] het ‘soos ʼn vark gebloei’,” het Rossouw gesê. Papenfus het dit ook ontken.

Die verhoor duur Vrydag voort, wanneer Johnson na verwagting ter sy verdediging gaan getuig.

Lees die vorige berigte oor die Mangat-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sophia ·

Die mees grusaamste moord op ‘n baie goeie man wat ek persoonlik geken het! Mag geregtigheid geskied!!

Marinda ·

Hoekom het hulle nie die ambulans gebel as hulle vermoed het die man het ñ hartaanval gehad nie?

Te veel stories.

Sterkte aan die familie van die oorledene.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.