Mangat-moord: Man vertel van drank, dwelms, seks en lyk

Gerhardus Pienaar Papenfus (Foto: Maroela Media)

Die drie mans wat verdink word van die moord op Danie Dreyer (64), ʼn afgetrede polisiebeampte en sakeman van Pretoria, was glo onder die invloed van dwelms toe Dreyer in sy huis dood is, het die hof Vrydag gehoor.

Estelle Reddy, Dreyer se voormalige meisie; haar vriend, Gerhardus Pienaar Papenfus; asook Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst het Vrydag weer in die Pretoriase hooggeregshof verskyn waar hulle tereg staan op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede, regsverydeling, brandstigting en die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die vier ontken skuld op al die aanklagte teen hulle.

Papenfus, geklee in ʼn netjiese grys pak, is Vrydag geroep om ter sy verdediging te getuig.

Adv. Antonie Viviers, vir Papenfus, het hom ondervra.

Papenfus het gesê hy het in Februarie 2016 deur ʼn gemeenskaplike vriendin met Reddy kontak gemaak. Papenfus, ʼn selferkende dwelmverslaafde, het gesê hy was 18 maande lank skoon toe hy besluit het om sy eie onderneming, om rekenaars te herstel, op die been te bring.

Die onderneming het egter nie geslaag nie omdat hy “sleg was met die administrasie”.

Hy het met Reddy in verbinding getree omdat sy hom kon help om die administrasie te doen. Reddy het destyds by ʼn kleuterskool gewerk en deeltyds vir Dreyer se onderneming, Jakaranda Grafstene.

Wat aanvanklik ʼn besigheidsverhouding was, het vinnig meer geword. Papenfus het op ʼn vraag of hulle “romanties betrokke was” gesê: “Ons het vier keer seks gehad.” Reddy het toe by Dreyer gewoon omdat sy van haar man, wat glo ook ʼn dwelmverslaafde en die pa van haar kind is, wou skei.

“Ek het nooit ʼn probleem met [Dreyer] gehad nie. Ons het toe Estelle daar gebly het, gereeld saam gedrink en gesels. Hy het wel eendag vir my gesê ons moes hom net laat weet het toe ek een aand daar by haar oorgeslaap het,” het Papenfus getuig.

Papenfus het gesê Reddy het in ʼn stadium vir hom gesê sy wil haar werk by die kleuterskool bedank. Hy het haar egter aangeraai om dit nie te doen nie, aangesien hy nie vir haar sal kan sorg nie omdat hy nog by sy ma in Capitalpark bly.

Oor die naweek wat Dreyer dood is, het Papenfus getuig hy en sy twee medebeskuldigdes, Johnson en Furst, het drie dae lank aanhoudend drank, dagga en die dwelm CAT gebruik.

Estelle Reddy (Foto: Maroela Media)

“Estelle het die Sondag na ʼn verlowingspartytjie in Laudium gegaan en daar oorgeslaap. Ek het haar met Dreyer se bakkie gaan aflaai en het haar toestemming gehad. Op pad Laudium toe het sy besef sy het vergeet om haar hond en voëltjie kos te gee. Kevin en Ruvan het saam met ons gery en het onderneem om die diere kos te gaan gee.”

Papenfus het gesê sy twee medebeskuldigdes is later glo na die huis, maar het teruggekom en gesê hulle kon nie by die erf inkom nie, want daar was ʼn probleem met die hek se afstandsbeheerder.

Die drie is die volgende oggend vroeg terug na Dreyer se huis. Papenfus het die knoppie gedruk en die hek het oopgegaan.

“Ons is toe na die hondebakke wat direk by Dreyer se huis se agterdeur gestaan het. Ek het een van die bakke opgetel om water in te gooi. Kevin en Ruvan is in die huis in om die hondekos te kry. Toe ek terugkom, het ek mense hard hoor praat. Toe ek inkyk by die agterdeur, toe sien ek Danie lê daar op die grond in sy kamer.”

Papenfus het Johnson en Furst gevra wat gebeur het. “Ruvan se hand het gebloei. Ruvan het gesê Danie het Kevin in die huis gesien en vir hom geskreeu: ‘Hey k***** wat soek jy in my huis?’ en ʼn rusie het ontstaan,” het Papenfus gesê. Dreyer, ʼn voormalige stoeier, het tydens die rusie vir Furst op sy hand gebyt.

Papenfus het getuig Dreyer het op sy maag met sy gesig na onder in sy kamer gelê. “Ek het hom omgedraai en gesien hy haal nie asem nie. Ek het nie ʼn pols gevoel nie en begin om noodhulp te doen. Ek het gedink hy het ʼn hartaanval gehad. Ek het lank probeer om hom by te bring, maar dit was te laat. Ek het heavy gepanic. Al waaraan ek kon dink is dat ons is in die man se huis is, Estelle is nie daar nie, Ruvan bloei erg en daar is ʼn dooie man.”

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Hulle het Dreyer se lyk net daar gelos.

Die trio het daarna vir Reddy in Laudium gaan oplaai. Papenfus het vir haar vertel wat gebeur het. “Estelle was nie baie haastig nie. My senuwees was klaar. Estelle het gesê dit is eintlik goed dat dinge só uitgewerk het, dat Danie ʼn hartaanval gehad het,” het hy getuig.

Die hof het gehoor die vier het daarna eers nog drank, asook KFC gaan koop voor hulle terug is na Papenfus se huis.

Later die Maandag het al vier Dreyer se liggaam in ʼn stuk plastiek en beddegoed toegedraai en dit in die basis van sy bed weggesteek. Hy het twee dae daar gelê voor hulle sy liggaam in ʼn mangat langs Papenfus se huis gaan stort en bytsoda daaroor gegooi het. Dreyer was vyf dae lank in die mangat voor Reddy op 4 April die voorval by die Villieria-polisiestasie aangemeld het. Sy beweer Dreyer is tydens ʼn huisroof in die onderonsie met haar drie medebeskuldigdes dood.

Op ʼn vraag oor hoekom hulle die liggaam weggesteek het, het Papenfus gesê dit was net ʼn “tydelike plan” aangesien Reddy nou “haweloos en hulpeloos” was en sy blyplek vir haar en haar seun, toe twee jaar oud, moes reël. Hy het ook “aangeneem” Reddy sou dit by die polisie gaan aanmeld dat Dreyer ʼn hartaanval gehad het.

Die verhoor duur Maandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Poppie ·

Nou gaan die een meer lieg as die ander 1. En elkeen gaan nou die ander beskuldig

Cherokee ·

Lees die laaste sowat 8 paragrawe. Hulle het probeer om dy lewe te red! En hulle word aangekla? Verdomp…. die lewe is somtyds so onregverdig.

Abe ·

Frankie, hou asb. op om van elke onbelangrike taalkundige kwessietjie n bohaai te maak. Daar is meer as een manier om dieselfde ding te se. Afr. is n volwasse taal met n uitgebreide skat van segswyses, aanvaar dit asb. so. Maroela se taalgebruik is puik!

Mimi ·

As die Mnr Papenfus n erkende dwelmverslaafde is wat in sy ma se huis gebly het, kan n mens net dink watse hel hy al in haar lewe veroorsaak het. n Mens kan net hoop dat hy darem n ruk in die ttonk sal wees, dat sy kan vrede he. Baie sterkte aan die oorledene, mnr Dreyer se kinders, die hele ding moet vir hulle traumaties wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.