Mangat-moord: Oorsaak van dood ʼn raaisel

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Die oorsaak van Danie Dreyer (64), voormalige polisiebrigadier en sakeman van Pretoria, se dood bly bly twee jaar daarná steeds ’n raaisel.

Dit het aan die lig gekom tydens die verhoor van vier mense wat daarvan verdink word dat hulle hom vermoor en beroof het.

Estelle Reddy, Dreyer se voormalige vriendin; haar vriend, Gerhardus Pienaar Papenfus; Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst het Donderdag in die Pretoria-hooggeregshof verskyn waar hulle tereg staan op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, regsverydeling, brandstigting en die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die vier het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hulle.

Reddy het haarself op 4 April 2016 by die Villieria-polisiestasie oorgegee, waarna sy die polisie gewys het waar Dreyer op 28 Maart 2016 in sy kamer in sy huis in Villieria vermoor is. Nadat sy liggaam verwyder is, is Dreyer se kamer aan die brand gesteek. Reddy het ook uitgewys waar Dreyer se liggaam in ʼn mangat in Capital Park gestort is, langs die huis in Flowerstraat, waar Papenfus woon.

Dit het die brandweer destyds bykans vier uur geneem om Dreyer se liggaam uit die mangat te verwyder. Die liggaam is glo met die hulp van Papenfus, Reddy en Johnson in die mangat gegooi waarna bytsoda oor sy liggaam uitgegooi is in ʼn poging om van bewyse ontslae te raak.

Papenfus is kort nadat Dreyer se liggaam gevind is, in hegtenis geneem. Dreyer se voertuig en vuurwapen is in sy besit gevind. Daar was ook twee sakke met klere met bloedspatsels op in sy kamer. Die klere behoort glo aan Johnson en Furst.

Die beskuldigdes Donderdag in die hof. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Johnson is op 6 April 2016 in Eersterust in hegtenis geneem. Furst is op 12 April 2016 in hegtenis geneem nadat hy hom aan die polisie oorgegee het.  Die vier is sedert hul inhegtenisnemings in aanhouding by die Kgosi Mampuru II-gevangenis nadat die Pretoria-landdroshof hul borgtogaansoeke op 16 Mei 2016 geweier het.

Die verhoor het in Februarie vanjaar begin. Die staat het reeds hul saak gesluit. Dit het in die hof aan die lig gekom dat Papenfus, Johnson en Furst glo vir Dreyer op die dag van sy dood probeer beroof het. Hy was ʼn voormalige stoeier en het terugbaklei en Furst glo in die proses op sy hand gebyt. Reddy, wat tydens die voorval by ʼn verlowingspartytjie was, het in haar bekentenis aangevoer aldus Papenfus het Dreyer tydens die stoeiery ʼn hartaanval gekry.

Volgens die akte van beskuldiging word die oorsaak van dood as “onbepaalbaar” aangedui. Dreyer se liggaam is vir twee dae ná sy dood in die basis van sy bed versteek en het vyf dae lank in die bytsoda gelê voor dit gevind is.

Prof. Ryan Blumenthal, ʼn forensiese patoloog wat vroeër as ʼn staatsgetuie tydens die verhoor getuig het, het aangedui dat Dreyer nege gebreekte ribbes gehad het, maar weens die erge onbinding kon die presiese oorsaak van sy dood nie bevestig word nie. Hy het wel bevind dat dit weens onnatuurlike oorsake was.

Die verdediging voer aan dat Dreyer se ribbes gebreek is toe daar gepoog is om van sy liggaam ontslae te raak of toe sy liggaam deur die brandweer uit die mangat gehaal is.

Jan Botha, ʼn forensiese patoloog wat as ʼn spesialisgetuie deur die verdediging geroep is om te getuig, het Donderdag ook aan die hof gesê die oorledene het gebreekte ribbebene gehad en dat een van sy longe ʼn gat in gehad het. Hy het ook gesê die liggaam was redelik ontbind en met ʼn chemikalie gebrand.

“Die nadoodse ondersoek kon nie die oorsaak van die dood vasstel nie. Dit kon ʼn hartaanval wees weens emosionele stres en dus ʼn natuurlike oorsaak van dood gewees het,” het hy gesê.

Botha is van mening dat die gebreekte ribbebene ná Dreyer se dood opgedoen is.

Die staat het dit gestel dat daar bloedplasse in Dreyer se kamer gevind is. Weens die erge toestand van ontbinding kon daar egter nie vasgestel word van waar op Dreyer se liggaam die bloed vandaan kon kom nie.

Botha het gesê hy kan nie getuig oor die misdaadtoneel of bewyse in die hof dat daar wel bloedkolle in Dreyer se kamer gevind is nie, maar bloot op die nadoodse ondersoek.

Op ʼn vraag deur regter Bert Bam om, met inagneming van die bloedkolle, te bespiegel oor Dreyer se dood, het Botha egter erken dat ʼn natuurlike dood “hoogs onwaarskynlik” kan wees.

Die verhoor duur voort.

Lees die vorige berigte oor die Mangat-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Oom Kalahari ·

Regter Bam is inderdaad ‘n uitstekende regter, maar as jy voor hom verskyn is die strawwe nie gemaklik nie. Hy neem alle aspekte ernstig in ag en net bewysbare feite.

Lulu ·

As die man aan natuurlike oorsake gesterf het, sou die mense beslis nie probeer het om van sy liggaam ontslae te raak nie…

Bosbok ·

As mnr Dreyer dan dood is weens n hartaanval soos hulle beweer, waarom dan van die lyk onstlae wil word en op die vreeslike manier wat hulle het? ?? Bog storie wat hulle vertel.

kas ·

Die vraag is net,Is die man aan natuurlike oorsake dood of nie.Die gebreekte ribbebene is na sy dood opgedoen.Botha erken in die laaste paragraaf dat natuurlike oorsaak hoogs onwaarskynlik is.Hulle kon dit alles bepaal maar nie die werklike oorsaak van dood nie.Onnatuurlike oorsaak en omstandigheidsgetuies dui op moord.Wat gaan regter Bam se uitspraak wees en nee mensae moet nie praat van doodstraf nie.Dit bestaan nie meer nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.