Mangat-moord: Staat het vrou in trane

Estelle Reddy (Foto: Maroela Media)

Estelle Reddy (38), wat verdink word van die moord op Danie Dreyer (64), ʼn voormalige polisiebrigadier en sakeman van Pretoria, het Donderdag in trane uitgebars toe sy ʼn foto van Dreyer se erg ontbinde liggaam gesien het.

Reddy, Dreyer se voormalige meisie, haar vriend Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst het Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof verskyn waar hulle tereg staan op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede, regsverydeling, brandstigting en die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die vier ontken skuld op al die aanklagte teen hulle.

Reddy was emosioneel tydens kruisondervraging deur staatsaanklaer adv. Cornelia Harmzen, toe teenstrydighede in haar oorspronklike verklaring ná haar in inhegtenisneming, en haar getuienis vandeesweek, uitgewys is.

Die hof het tydens die verhoor gehoor die oorsaak van Dreyer se dood, bly ʼn raaisel.

“Ek is bly die spesialis getuie is vandag geroep om te getuig, want ek wil graag weet hoe mnr. Dreyer dood is, want ek was nie by die moord betrokke nie,” het Reddy geantwoord op ʼn stelling deur Harmzen dat Reddy haar getuienis fabriseer.

“Wil jy weet hoe mnr. Dreyer dood is?” het Harmzen gevra en ʼn foto van Dreyer se erg ontbinde liggaam, wat twee dae lank onder sy bed in die basis versteek was, en daarna vyf dae lank in bytsoda in ʼn mangat gelê het, aan haar gewys. Die hof het daarna verdaag en Reddy, met rooigehuilde oë, is na die aanhoudingselle geneem.

Reddy het vroeër die dag in die hof haar rol in die “opruimingsproses” verduidelik. Sy was glo by ʼn verlowingspartytjie toe Dreyer op 28 Maart 2016 in sy huis in Villieria tydens ʼn rooftog, waarby Papenfus, Johnson en Furst glo betrokke was, dood is. Dreyer was ʼn voormalige stoeier en het terugbaklei. In Reddy se aanvanklik bekentenis aan die polisie het sy aangevoer, aldus Papenfus, Dreyer het tydens die stoeiery ʼn hartaanval gehad.

Gerhardus Pienaar Papenfus (Foto: Maroela Media)

Reddy het gesê Papenfus, haar ekskêrel, het haar van Dreyer se dood ingelig toe sy van die partytjie teruggekeer het.

Sy het getuig dat sy, twee dae nadat Dreyer se liggaam in die basis van sy bed weggesteek was, Papenfus en Johnson moes help om sy liggaam in beddegoed, plastiek en ʼn mat toe te draai en sy liggaam na Dreyer se voertuig te help dra. Furst was glo nie daar nie, aangesien Dreyer hom tydens die “rooftog” op sy hand gebyt het.

Die hof het ook gehoor hoe Reddy na ʼn chemikalieëfabriek in Rosslyn in die noorde van die stad gaan soek het om bytsoda te gaan koop om oor Dreyer se liggaam te gooi.

Dreyer se liggaam is na Papenfus se huis in Capitalpark geneem en in ʼn mangat in ʼn buurman se erf gegooi. Dit het gebeur kort nadat Papenfus se bure hul huis verlaat het en volgens Reddy het dit sowat 45 minute geduur.

“Ek moes self in die mangat inklim om die onderkant met plastiek te omlyn, want Papenfus het gesê die suur sou nie werk as ons dit nie doen nie, want dit sou uitloop,” het sy gesê.

Sy het getuig Papenfus het daarna sowat twee minute lank gespook om Dreyer se liggaam, kop eerste, in die mangat in te kry. Vandaar is sy en Johnson weer in die mangat in om die beddegoed en plastiek te verwyder sodat die bytsoda “kan werk”.

Sy het deurentyd aangevoer dat sy nie by die moord betrokke was nie, maar wel gehelp het op die toneel waar Dreyer gesterf het en waar sy liggaam gestort is, aangesien Papenfus dit van haar geëis het en dat sy bang was vir hom.

“Hy het gedreig hy sal my en my kind doodmaak as ek na die polisie toe gaan. Ek kon in daardie stadium nie helder dink nie en het gedoen wat hy van my gevra het want ek was bang vir hom,” het sy gesê.

Reddy het selfs getuig sy het seksuele omgang met Papenfus in Dreyer se huis gehad terwyl sy liggaam nog daar was, “om die vrede te bewaar”.

Sy het gesê Papenfus, wat sy as ʼn “gangster” en “hacker wat haar selfoongesprekke kan afluister” beskryf het, het haar ook opdrag gegee om van die bloedkolle en -spatsels in Dreyer se kamer ontslae te raak. “Ek kon dit nie skoon kry nie en dit is toe dat hulle die kamer aan die brand gesteek het. Mnr. Papenfus het ook ʼn gedeelte van die mat uitgesny, maar die bloed het deurgeloop en ook die houtvloer gevlek.”

Reddy beweer sy het nooit die geleentheid gehad om die voorval by die polisie aan te meld nie, want Papenfus was die heeltyd by haar. Sy het haarself uiteindelik op 4 April 2016 by die Villieria-polisiestasie oorgegee en die twee tonele uitgewys. Sy het dit gedoen nadat sy haar boetie skelm ontmoet het om sy raad te kry. Haar broer het haar aangeraai om haar kind by hul biologiese ma af te laai, omdat Papenfus haar nie geken het nie, en daarna Viljoenskroon toe te vlug.

Harmzen het met haar kruisondervraging verskeie moontlikhede uitgewys waar Reddy wel geleentheid gehad het om vroeër polisie toe te kon gaan.

“Mnr. Papenfus het gesê hy het vriende by baie polisiestasies wat getrou is aan hom. Ek kon ook nie net op kort kennisgewing alles net so los en vlug nie. Ek het niks geld gehad nie, my kind (toe twee jaar oud) het doeke en melk gekort en daar was baie goed wat gepak moes word.”

Sy het gesê sy het die polisie uiteindelik genader nadat haar biologiese ma ʼn betroubare polisiebeampte geïdentifiseer het, haar kind veilig was, en sy moeg was om Papenfus se “gemors” op te ruim.

Haar kruisondervraging duur Vrydag voort.

Lees die vorige berigte oor die Mangat-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jo ·

Maar sy was nie in trane terwyl sy seks met haar medepligtige gehad het terwyl ‘n dooie lyk onder die matras lê nie! Wat ‘n gruverhaal! Sal graag wil hoor wat haar medepligtiges oor haar werklike betrokkenheid te sê het.

Ruby ·

Sy was moeg om Papenfus se gemors op te ruim……nou hoeveel keer het hierdie goed gebeur!

Laurika ·

Die siekste van als – dat jy seksuele omgang in die huis het waar die man se liggaam lê. Genade, hoe op aarde dink jy aan omgang terwyl jy verantwoordelik is vir iemand se afsterwe? Hierdie hele storie is siek verby. Ek hoop hulle almal kry baie lank tronk straf.

Genieve ·

Praat ook met 2monde neh,te laat vir huil Reddy hoop die gereg laat sy gang gaan teveel kom weg met moord.

Was in daai hel! ·

Dis vir my baie duidelik dat die bogenoemde komentators nog NOOIT TE DOEN GEHAD HET met EMOSIONELE MANIPULASIE nie en die UITERSTE VREES VIR JOU LEWE (en jound) wat daarmee gepaard gaan………………julle is uiters bevooroordeeld……..leer om in anders se skoene te staan voor jy veroordeel. Sielkundige emosionele manipulasie is een van die ergste situasies waarin enigiemand hom of haar kan bevind……was self daar gewees vir nege lang jare. DIS N WOESTE NAGMERRIE……..jy is eenvoudig so geintimideer dat jy ‘geen uitkome kan raaksien nie’ totdat alles eendag “TE VEEL WORD” en jy jou hele menslikheid verloor het…tot jou siel…..voordat jy OPTREE…….wat gewoonlik tot erger woeste gevolge kan lei…….soos om jou drie kinders vir altyd te verloor omdat hulle nog steeds onder die siek manipulasie van die ander ouer verkeer al is hulle al volwassenes………nee, wat, hou maar liewers julle kommentaar vir julle self!

Trina ·

Smaak my jy verdedig rowers en moordenaars. Miskien moet die foto van die slagoffer onder jou neus ook gehou word dat ny kan wakker skrik.
Baie mense gaan deur swaar tye maar wend hulle nie tot hierdie soort kriminele misdadigheid nie.

LB S ·

Daai Hel, jammer, dit klink asof jy ‘n baie moeilike tyd agter die rug het. Verskoon maar vir Trina.

wicus ·

MM WANNEER LEWER JULLE WEER KOMMENTAAR OOR DIE PARYS 6

VRA MAAR NET

kas ·

Seks met die medebeskuldigde om die vrede te bewaar terwyl die oorledene onder die matras is.Jaloesie is geen rede nie want hulle was nie meer saam nie.Wat het hulle by Dreyer se huis gemaak.Die motief blyk roof te wees.waartydens hy dood is.Sy was nie saam nie.Was dit dus beplan om van Dreyer ontslae te raak en toe die daad klaar gepleeg is toe gaan sy huistoe.Die getuies wat aangebied is is weersprekend.Dit kon ‘n hartaanval gewees het maar dit is onwaarskymlik.Ons moet maar wag en kyk wat gaan regter Bam se uitspraak wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.