Mangat-moord: Trane toe uitspraak kom

Die beskuldigdes staan agter regslui in die beskuldigingsbank. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Die beskuldigdes staan agter regslui in die beskuldigingsbank. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Estelle Reddy (36), een van die vier verdagtes wat tereg staan op die moord van Danie Dreyer (64), haar voormalige minnaar, se oë het vol trane geskiet terwyl landdros Mogi Naidoo Vrydag in die Pretoria-landdroshof uitspraak gelewer het in die vier se borgtogaansoek.

Naidoo het tydens die vyfde dag van die borgtogaansoek wat op 22 April begin het, borg aan Reddy, haar vriend Gerhardus Pienaar Papenfus (41), Kevin Johnson (29) en Ruvan Regionald Furst (42) geweier.

Op een bankie in die openbare galery het Dreyer, voormalige polisiebrigadier en sakeman, se suster en susterskind mekaar vasgehou en gehuil. Op ʼn ander bankie het Papenfus se bejaarde ma hardop gehuil terwyl haar dogter haar troos.

Die hof het Vrydag die staat, deur aanklaer Sipho Letsoala, en die verdediging, deur regshulpraadprokureur Martin Botha, se slotbetoë in die aansoek aangehoor.

Die vier staan tereg op aanklag van moord wat as ʼn skedule ses-misdaad aangehoor word. Hulle het aangedui hulle beplan om onskuldig te pleit. Die staat het hard teen die aansoek geveg.

Botha het aangedui dat die aansoek as ʼn skedule vyf-misdaad aangehoor moet word aangesien konst. Mokwena Mojapelo, ondersoekbeampte van die Villieria-polisiestasie, Vrydag onder kruisverhoor getuig het die beskuldigdes wou glo by Dreyer se Villieria-huis gaan inbreek het, en dat Dreyer toevallig toe by die huis was en vermoor is. “Hulle kon die moord dus nie vooraf beplan nie en daarom is dit dus nie moord met voorbedagte dade nie,” het Botha gesê.

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Die hof het vroeër gehoor Reddy het haarself op 4 April by die Villieria-polisiestasie oorgegee, waarna sy die polisie gewys het waar Dreyer op 28 Maart in sy kamer in sy huis in Villieria vermoor is. Dreyer se kamer is aan die brand gesteek. Reddy het ook uitgewys waar Dreyer se liggaam in ʼn mangat in Capital Park gestort is, naby die huis in Flowerstraat, waar Papenfus woon. Dit het die brandweer bykans vier uur geneem om Dreyer se liggaam uit die mangat te verwyder. Die liggaam is glo met die hulp van Papenfus, Johnson en Furst in die mangat gegooi.

Botha het aangevoer dit is in die belang van geregtigheid dat die beskuldigdes borgtog kry aangesien hulle onder meer aangedui het dat hulle nie onskuldig gaan pleit nie, nie vlugrisiko’s is nie, nie ʼn gevaar vir die gemeenskap inhou nie, nie van plan is om nie hul verhoor by te woon nie en nie met getuies sal inmeng of bewyse sal vernietig nie.

Melding is vroeër in die hof gemaak van Papenfus wat glo twee getuie met die dood gedreig het, maar Botha het aangevoer dat dit op hoorsê gegrond is en dat daar nie amptelike verklarings van dié getuies by die hof ingedien is nie. “Inteendeel, min bewyse is deur die staat aan die hof voorgelê. Ons weet nog niks van die omstandighede rondom die voorval nie en watter rol almal gespeel het nie. Die oorsaak van die dood is nog nie eens bekend nie. Daar word nou net bespiegel.”

Die uitslag van sy nadoodse ondersoek is nog nie beskikbaar nie en die oorsaak van Dreyer se dood nog onbekend.

Botha het aangevoer die staat het ʼn swak saak en die beskuldigdes het buitengewone redes dat hulle op borgtog vrygelaat moet word. Reddy het onder meer ʼn 22 maande oue seuntjie om na om te sien, Papenfus ʼn bejaarde ma wat van hom afhanklik is en Johnson en Furst het kinders om te versorg.

Die staat het in sy betoog aangedui die moord is ʼn skedule ses-misdaad en dat dit nie nodig is om ʼn borgtogaansoek soos ʼn verhoor te hanteer nie. “Die beskuldigdes het gekies om hul beëdigde verklarings te laat voorlees, want as hulle self sou getuig sou hulle onder kruisverhoor geknak het.” Letsoala het gesê dit is duidelik dat hulle beplan het om Dreyer te besteel en dat hulle hom in sy huis vermoor het. Hulle het daarna sy kamer aan die brand gesteek, sy liggaam in die mangat gestort en suur daaroor uitgegooi in ʼn poging om van die liggaam en ander bewyse ontslae te raak. Letsoala het gesê Reddy is die meesterbrein agter die moord. Hy het ook gesê die gemeenskap was deur die daad geskok en dat dreigemente teen die beskuldigdes gemaak is, veral op sosiale media nadat daar oor die moord in die media berig is.

Naidoo het tydens haar uitspraak gesê daar was ʼn mate van beplanning by die moord en het daarom beveel dat die aansoek as ʼn skedule ses-misdaad aangehoor word. Dit beteken die beskuldigdes moet kan bewys hulle het buitengewone omstandighede waarom borgtog toegestaan moet word en dat dit in die belang van geregtigheid is.

Sy het gesê die beskuldigdes kon nie daarin slaag om buitengewone redes te verskaf nie. Sy het ook gesê dit is nie in die belang van geregtigheid om hulle op borgtog vry te laat nie aangesien die “bose” manier waarop hulle van Dreyer se liggaam en identiteit ontslae wou raak, bewys dat hulle oor die saak gedink het en dat dit aandui dat hulle met getuies en bewyse sal inmeng. Sy het ook gesê Reddy se lewe is in gevaar weens die rol wat sy gespeel het toe sy haarself oorgegee het.

Naidoo het borgtog geweier en gesê die beskuldigdes mag teen haar uitspraak appelleer. Die saak is tot 11 Mei uitgestel wanneer die beskuldigdes na verwagting gaan aansoek doen vir ʼn nuwe regshulpraadprokureur wat die verhoor gaan hanteer. Die saak is verder uitgestel tot 7 Junie vir verdere ondersoek.

Papenfus is kort nadat Dreyer se liggaam gevind is, in hegtenis geneem. Dreyer se voertuig en vuurwapen is in sy besit gevind. Daar was ook twee sakke met klere met bloedspatsels op in sy kamer. Die klere behoort glo aan Johnson en Furst.

Johnson is op 6 April in Eersterust in hegtenis geneem. Furst is op 12 April in hegtenis geneem nadat hy hom aan die polisie oorgegee het. Hy het beweer hy was in Boksburg ná sy 18-jarige seun se dood en dat hy na die begrafnisreëlings moes omsien en nie geweet het die polisie soek na hom nie. Sy ouer suster by wie hy in ʼn plakkershut op haar erf in Eersterust woon, het egter in ʼn verklaring aan die polisie gesê hulle is nie bewus van die seun of die seun se dood nie en dat hy lieg.

Dreyer laat twee broers, ʼn suster, drie seuns en ʼn dogter agter. Hy het ná 20 jaar in die polisie uitgetree en sy eie onderneming, Jakaranda Grafstene, begin.

Lees alle vorige berigte oor die Villieria-moord op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chene ·

Namens my en my Moeder wat elke dag in daardie hof gesit het en die grusame dade wat hulle met my oom se liggaam aangevang het en hulle patetiese redes vir borg moes aanhoor wil ek net se vertroue in die regstelsel herstel … 100%

Hannelie ·

My hart gaan uit na julle as familie. Mag hul verrot in die tronk, al hoewel die doodstraf die beter vonnis sou gewees het. Sterkte Chene

Cherokee ·

Martin Botha….. jy kan ander werk gaan soek waar jyself en nie jou werkgewer besluit wat jy moet doen. Word ‘n makelaar, verkoop seep of ontbytkos of so iets!

Loon ·

Ek kry n wrang smaak in my mond oor die Botha man…… Papenfus is nie n gevaar vir die gemeenskap nie, maar hy het gehelp om een van die gemeenskap te vermoor….. Mnr Botha wat volgens jou is dan n gevaar vir die gemeenskap?

Sarel Strydom ·

In hierdie geval is borgtog geweier wat reg was maar in die Tokai saak is borgtog toegestaan? My brein is seker te klein om te verstaan.

Gys ·

Sarel, ek was self geskok om te hoor van die borgtog wat aan die Tokai moordenaars toegestaan is. Vir so ‘n wrede sinnelose moord? En Janus Walusch, wat Chris Hani doodgeskiet het, word na 20+ jare in die tronk steeds borgtog geweier omdat Hani se familie teen die borgtog gekant is. Wat van die arme Tokai meisie se ouers? Geld dieselfde dan nie vir hulle nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.