Mangat-moord: Vier hoor dalk van borg

Die beskuldigdes staan agter regslui in die beskuldigingsbank. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Die beskuldigdes staan agter regslui in die beskuldigingsbank. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Die vier verdagtes wat in verband met die moord op Danie Dreyer (64), voormalige polisiebrigadier en sakeman van Pretoria, in hegtenis geneem is, sal na verwagting Donderdag in die stad se landdroshof hoor of hul borgtogaansoek suksesvol was.

Estelle Reddy (36), haar vriend Gerhardus Pienaar Papenfus (41), Kevin Johnson (29) en Ruvan Regionald Furst (42) staan tereg op aanklag van moord wat as ʼn skedule ses-misdaad aangehoor word.

Tydens hul eerste borgtogverskyning op 22 April het al vier in hul beëdigde verklarings aangedui dat hulle onskuldig gaan pleit. Die staat staan die aansoek teen. Die saak is daarna tot 26 April uitgestel aangesien die ondersoekbeampte weens werkverpligtinge nie in die hof kon verskyn om teen die aansoek te getuig nie.

Konst. Mojapelo het op 26 April in die hof getuig die staat het ʼn sterk saak en dat borgtog teengestaan moet word.

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Ná Mojapelo se getuienis is die saak tot 4 Mei vir kruisondervraging uitgestel. Die beskuldigdes het egter net vlugtig in die hof verskyn aangesien hul voormalige regshulpraadprokureur, Timothy Ramabulana, weens “tegniese redes” vervang is met sy kollega, Martin Botha. Botha het die hof versoek om die saak uit te stel om hom die geleentheid te bied om die saak te bestudeer.

Landdros Mogi Naidoo het die aansoek toegestaan. Die saak is tot vandag uitgestel. Die beskuldigdes bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig Dreyer se liggaam is op 4 April in ʼn mangat in Capital Park aangetref nadat Reddy haar aan die Villieria-polisie oorgegee en Dreyer se dood aangemeld het. Sy het Dreyer se liggaam aan die polisie uitgewys waar hy glo met behulp van Papenfus, Johnson en Furst in die mangat gestort is.

Dreyer is vermoedelik op 28 Maart tydens ʼn geskil oor geld in sy kamer by sy huis in Villieria vermoor waarna die kamer aan die brand gesteek is.

Papenfus is kort nadat Dreyer se liggaam gevind is, in hegtenis geneem. Johnson is op 6 April in Eersterust in hegtenis geneem. Furst is op 12 April in hegtenis geneem nadat hy hom aan die polisie oorgegee het.

Lees alle vorige berigte oor die Villieria-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tiger ·

Die regter moet hulle borg weier.Monsters hoort agter tralies en klaar.Maar nou ja,die’ land en sy wette is ‘n groot grap.

Loon ·

Ek is nie n regskenner nie en wil graag hê iemand moet my vraag beantwoord:
1-Jy gee jouself oor en meld die moord aan, dan gaan wys jy die plek uit waar die liggaam is. Hoe kan jy dan onskuldig pleit?
2-Jy het nog 3 medepligtiges in die moord en almal pleit onskuldig?

Gerd Lourens ·

Loon. Ek sal ook baie graag wil hoor wat die redes is dat die gespuis kan onskuldig pleit.

‘n Onskuldige man is vermoor. Punt.

m ·

wat moes hierdie arme man nie alles deurgemaak het voor hy dood is nie. Dis skokkend.

yster 74 ·

Die klomp se stories hou nie water nie. Het ek dit regs of nie. Het die vermoorde en vroue beskuldigde n verhouding gehad. En toe help die nuwe liefde die moord pleeg. Siek storie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.