Mangat-moord: Vier in hof vir borgtog

Die beskuldigdes staan agter regslui. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Die beskuldigdes staan agter regslui. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Die vier verdagtes wat in verband met die moord op Danie Dreyer (64), voormalige polisiebrigadier en sakeman van Pretoria, in hegtenis geneem is, het Vrydag gesamentlik in die stad se landdroshof verskyn om vir borgtog aansoek te doen.

Staatsaanklaer Sipho Letsoala en die beskuldigdes se regshulpraadprokureur, Timothy Ramabulana, het saamgestem dat die verdagtes vir ʼn skedule ses misdaad verhoor word. Die staat het aangedui hy gaan aanvoer dat Dreyer se moord vooraf beplan is.

Estelle Reddy (36), haar vriend Gerhardus Pienaar Papenfus (41), Kevin Johnson (29) en Ruvan Regionald Furst (42) het tydens hul borgtogaansoek gesê dit is in die belang van geregtigheid dat hulle borgtog toegestaan word.

Al vier verdagtes het in beëdigde verklarings aangedui dat hulle onskuldig gaan pleit. Hulle het verder aangedui hulle het permanente adresse, hulle is nie vlugrisiko’s nie, hulle hou nie ʼn gevaar vir die publiek in nie, hulle sal nie met enige getuies inmeng nie, enige bewyse vernietig nie, alle hofverrigtinge bywoon en hulle hul borgtogvoorwaardes respekteer.

Reddy, Dreyer se voormalige vriendin wat tydens haar inhegtenisname vir hom gewerk het en R6 000 per maand verdien het, het aangedui sy moet borgtog kry aangesien sy haar 22 maande oue seun moet versorg. Die seun is tans in Reddy se skoonsuster se sorg wat in Laudium bly. Die skoonsuster, Komlavallie Parbhu, is deur die verdediging geroep om te getuig. Sy het gesê die seun eet nie na behore nie, verlang na sy ma en roep die heeltyd na haar. Parbhu het gesê hy drink tans net bottel en weier om ander kos te eet. Sy het die kind na ʼn kliniek in Laudium geneem en die suster was glo bekommerd en het gesê die seun verloor gewig. Sy het by die hof gepleit dat Reddy borgtog toegestaan moet word om na hom om te sien, aangesien sy bekommerd is oor die kind se gesondheid.

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Reddy het aangedui dat sy geen vorige skuldigbevindings of hangende sake teen haar het nie. Sy het ook aangedui dat sy onskuldig gaan pleit.

Papenfus, Johnson en Furst het aangedui dat hulle almal al skuldig bevind is vir die besit van dagga.

Papenfus, ʼn inwoner van Capital Park wat vir homself werk deur rekenaars te herstel, het beweer hy verdien R2 000 per maand waarmee hy sy 72-jarige ma en 60-jarige tannie moet versorg. Hy het beweer hy is verantwoordelik om hulle na die hospitaal te neem en asook vir hul mediese uitgawes.

Johnson, ʼn inwoner van Eersterust in die ooste van Pretoria, het aangedui hy werk vir homself en doen loswerkies as tuinier, verwer en karwasser waarmee hy twee kinders, onderskeidelik twee en sewe jaar oud, en wat by hom inwoon moet onderhou.

Furst, ook van Eersterust, het gesê hy werk die afgelope vyf jaar as ʼn skoenmaker en verdien sowat R2 000 per maand waarmee hy vier kinders, onderskeidelik 14, 18, 20 en 22 jaar oud, wat by hom inwoon moet onderhou. Hy het verder aangedui hy is ʼn psigiatriese pasiënt en het ook ʼn wond aan sy hand opgedoen wat behandeling benodig aangesien hy sy hande nodig het om sy werk te kan verrig.

Landdros Mogi Naidoo het Ramabulana gevra of Furst die verrigtinge verstaan aangesien hy ʼn psigiatriese pasiënt is. Ramabulana het geantwoord dat hy wel verstaan.

Danie Dreyer se broer, Leon Dreyer, suster, Elmarie Bekker, en susterskind, Chené Bekker, praat met die media buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

Danie Dreyer se broer, Leon Dreyer, suster, Elmarie Bekker, en susterskind, Chené Bekker, praat met die media buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

Die staat het die aansoeke teengestaan. Die staat het aanvanklik vir uitstel gevra omdat die ondersoekbeampte weens werkverpligtinge in Limpopo moes wees. Die staat het gesê die beskuldigdes se borgtogaansoeke was nie dringend nie.

Die verdediging het egter daarop aangedring dat die borgtogaansoek moes voortgaan aangesien die staat gereed moes wees. “Dit is onbillik vir die beskuldigdes wat al van 12 April af moes wag om vir borgtog aansoek te doen.”

Naidoo het die hof tot na middagete verdaag waarna die ondersoekbeampte se senior in bevel, kapt. Van der Spuy, namens hom verskyn het.

Van der Spuy het versoek dat die saak uitgestel word aangesien die ondersoekbeampte ʼn gesoekte misdadiger in Limpopo in hegtenis gaan neem het en meer vertroud is met die saak en beter sal kan aandui waarom borgtog geweier moet word. “Ons weet hierdie is ʼn ernstige saak en die staat het ʼn sterk saak,” het Van der Spuy gesê.

Naidoo het die staat op die vingers getik omdat die ondersoekbeampte nie sy kant kon stel nie, maar het die uitstel in belang van geregtigheid laat oorstaan met die voorwaarde dat die ondersoekbeampte met die volgende hofverskyning teenwoordig is.

Geen borgtog is toegestaan nie. Die saak is uitgestel tot Dinsdagoggend. Die verdagtes bly in aanhouding.

Familie van die slagoffer en die beskuldigdes het die hofverrigtinge bygewoon.

Maroela Media het vroeër berig Dreyer se liggaam is op 4 April in ʼn mangat in Capital Park aangetref nadat Reddy haar aan die Villieria-polisie oorgegee en Dreyer se dood aangemeld het. Sy het Dreyer se liggaam aan die polisie uitgewys waar hy glo met behulp van Papenfus, Johnson en Furst in die mangat gestort is.

Dreyer is vermoedelik op 28 Maart tydens ʼn geskil oor geld by sy huis vermoor.

Papenfus is kort nadat Dreyer se liggaam gevind is in hegtenis geneem. Johnson is op 6 April in Eersterust in hegtenis geneem. Furst is op 12 April in hegtenis geneem nadat hy hom omstreeks 15:30 aan die polisie oorgegee het.

Dreyer laat twee broers, ‘n suster, drie seuns en ‘n dogter agter. Hy het ná 20 jaar in die polisie uitgetree en sy eie onderneming, Jakaranda Grafstene, gestig.

Lees alle vorige berigte oor die Villieria-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Stem saam ·

Stem saam Gerd en Ai, sulke goed maak mens vies. Nou ewe skielik onthou sy, sy het ‘n klein seuntjie na wie sy moes omsien. Girl jy moes daaraan gedink het toe jy hierdie man van sy lewe laat ontneem het!!!! So ook kamma 2ooo ‘n maand en sorg vir Ma etc. Bullsh……. Vat jou verdomde pak soos ‘n man – julle was 4 teen 1 en op ‘n agterbakse manier – Danie Dreyer is ou skool(Polisie) en sou beslis homself kon help as jy hom per ongeluk oorval het, julle het alles agteraf beplan en hom onverhoeds betrap, hy het beslis nie so iets van jou verwag nie Estelle Reddy, sit maar en dink mooi oor wat jy gedoen het – pleks van pleit skuldig en vat jou pak! Jou kind is beter af sonder jou, jy is nie net ‘n slegte Ma nie, jy is ook ‘n slegte voorbeeld.

Ai ·

Sy gaan gee haar self oor en gaan wys die plek uit waar die lyk was, maar sy wil onskuldig pleit???

Nico ·

Sy gaan waarskynlik opset ontken. Seker aanvoer sy was onder dwang of het die moord probeer keer.

Irene ·

Soe hulle kan vir baie mense sorg vir die bedrae wat hulle maandeliks ontvang hoe kry hulle dit reg hahahhhhha

V ·

Siek samelewing die!!Jy moet liewers nie na jou kind kyk nie,want jy sal nog jou eie kind ook vermoor!

Jef ·

Lewenslange tronkstraf moet hulle kry dan het hulle tyd genoeg om oor alles na te dink oor wat hulle gedoen het, moordenaars hoort agter tralies en niks borgtog nie.

tammy ·

Nou hoekom sal sy nou skielik haar borg respekteer. Siestog, sy het nie respek vir lewe en dood nie. Plaas die seuntjie in goeie sorg of laat hom aanneem, dis n skande dat die arme kind met n slegte ma se bagasie moet leef. Hulle is moordenaars , verwyder hulle uit die samelewing!

Anoniem ·

Gerieflik….vergeet jy is n moeder toe jul die moord gepleeg het..waar was julle bekommernisse toe van elkeen van julle… Ek is jammer..maar in my hart glo ek nie jy is in staat om na jou kind te kyk nie..hoop die welsyn vat hom weg van jou!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.