Mangat-moord: Vier verdagtes saam verhoor

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Ruvan Regionald Furst (42) wat daarvan verdink word dat hy glo met drie ander verdagtes saamgesweer het om die vermoorde Danie Dreyer (64) se lyk in ʼn mangat in Pretoria te stort, het Donderdag in die stad se landdroshof verskyn.

Furst, van Eersterust, het hom Dinsdag by die Villieria-polisiestasie oorgegee in verband met die moord op Dreyer, ʼn voormalige luitenant-kolonel in die SAPD en eienaar van Jakaranda Grafstene, van Villieria in die Moot.

Hy het alleen verskyn.

Die staat en verdediging het versoek dat Furst saam met die ander drie verdagtes, Estelle Reddy (36), haar vriend, Gerhardus Pienaar Papenfus (41), en Kevin Johnson (29) verhoor word. Hulle staan almal tereg op aanklag van moord.

Die vier sal op 22 April weer in die hof verskyn wanneer hulle na verwagting om borgtog aansoek sal doen.

Maroela Media het vroeër berig Dreyer se liggaam is op 4 April in ʼn mangat in Capital Park aangetref nadat Reddy, sy voormalige vriendin, haar aan die polisie oorgegee en Dreyer se dood aangemeld het. Sy het Dreyer se liggaam aan die polisie uitgewys waar hy glo met behulp van Papenfus, Johnson en Furst in die mangat gestort is.

Dreyer is vermoedelik op 28 Maart tydens ʼn geskil oor geld by sy huis vermoor.

Papenfus is kort nadat Dreyer se liggaam gevind is in hegtenis geneem. Johnson is op 6 April in Eersterust in hegtenis geneem. Furst is op 12 April in hegtenis geneem nadat hy hom omstreeks 15:30 aan die polisie oorgegee het.

Lees alle vorige berigte oor die Villieria-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.