Mangat-moord: ‘Vrou kan nie vertrou word nie’

Die beskuldigdes staan agter regslui in die beskuldigingsbank. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Die beskuldigdes staan agter regslui in die beskuldigingsbank. Van links is Estelle Ready, Gerhardus Pienaar Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst. Foto: Phillip Bruwer

Die vier verdagtes wat in verband met die moord op Danie Dreyer (64), voormalige polisiebrigadier en sakeman van Pretoria, in hegtenis geneem is, sal minstens nog ʼn aand agter tralies moet deurbring voordat hulle hoor of hul borgtogaansoek suksesvol was.

Estelle Reddy (36), haar vriend Gerhardus Pienaar Papenfus (41), Kevin Johnson (29) en Ruvan Regionald Furst (42), het tydens die vierde dag van hul borgtogaansoek, wat op 22 April begin het, gehoor die staat beskou die saak as “baie ernstig” en staan hul aansoek teen uit vrees dat hul vrylating met die ondersoek sal inmeng.

Die vier staan tereg op aanklag van moord wat as ʼn skedule ses-misdaad aangehoor word. Hulle het aangedui hulle beplan om skuld te ontken.

Die hof het vroeër gehoor Reddy het haarself op 4 April by die Villieria-polisiestasie oorgegee, waarna sy die polisie gewys het waar Dreyer op 28 Maart in sy kamer by sy huis in Villieria vermoor is. Dreyer se kamer is aan die brand gesteek. Reddy het ook uitgewys waar Dreyer se liggaam in ʼn mangat in Capital Park gestort is, naby die huis in Flowerstraat, waar Papenfus woon. Dit het die brandweer drie tot vier uur geneem om Dreyer se liggaam uit die mangat te verwyder. Sy liggaam was glo in ʼn sak toegedraai en chemikalieë is oor hom gegooi.

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Wyle Danie Dreyer. Foto: Facebook

Konst. Mokwena Mojapelo, ondersoekbeampte van die Villieria-polisiestasie, het Donderdag tydens kruisverhoor aangevoer verklarings moet nog van getuies by die chemikalieë-fabriek en plek waar die plastieksakke gekoop is, afgeneem word. Hy het gesê as die beskuldigdes borgtog toegestaan word, glo hy hulle sal met die ondersoek inmeng.

“Daar is ook getuies wat vrees vir hul lewe as Papenfus vrygelaat word. Hulle is bang vir hom en het eers gemaklik gevoel om na vore te kom oor die moord nadat hy in hegtenis geneem is,” het Mojapelo gesê. Mojapelo het ook gesê Papenfus het glo twee van die getuies met die dood gedreig, maar hy het nog nie hul amptelike verklarings daaroor afgeneem nie. Buiten dié bewering is hy egter nie bewus van enige ander gevalle waar een van die beskuldigdes met ʼn getuie kontak gemaak het nie.

Martin Botha, die beskuldigdes se regshulpraadprokureur, het aangedui Papenfus ontken hy het enigsins met enige getuie kontak gemaak of iemand gedreig.

Mojapelo het gesê Papenfus is voorheen skuldig bevind aan die besit van dagga en tydens sy inhegtenisneming is dwelms in sy besit gevind. Die oorledene se voertuig, bankkaart en vuurwapen is ook in sy besit gevind.

Volgens Mojapelo is Reddy, Johnson en Furst ook bang vir Papenfus. “Hulle werk as ʼn groep saam en hulle [Reddy, Johnson en Furst] sal alles doen wat hy vir hulle sê.”

Hy het gesê Reddy kan glad nie vertrou word nie. “Sy het by die oorledene, haar voormalige kêrel, in sy huis in Villieria gebly. Sy het Papenfus ontmoet en hulle het ʼn verhouding begin. Sy het Papenfus gebruik om Dreyer te vermoor. Sy het ná die moord by Papenfus in Capital Park gaan bly. Eers tydens hofverrigtinge het ek uitgevind dat Reddy nog getroud is met mnr. Reddy, wat by sy suster in Laudium bly. Reddy het dié adres as haar vaste adres gegee, maar sy het nie daar gebly nie.” Die Reddy-egpaar se seun, wat 22 maande oud is, word tans deur mnr. Reddy en sy suster versorg.

Mojapelo het gesê Reddy het die chemikalieë gekoop wat tydens die moord op Dreyer gebruik is. Hy wag nog vir kringtelevisiebeeldmateriaal by die fabriek voordat hy getuies daar se verklarings kan afneem. “Reddy het die moordtoneel, die plek waar Dreyer se liggaam gestort is en Johnson en Furst se blyplekke uitgewys en ʼn erkenning van die moord gemaak. Sy het gesê Johnson en Furst het die oorledene vermoor en die twee plastieksakke met klere vol bloedspatsels, wat in Papenfus se kamer gevind is, behoort aan hulle.”

Mojapelo het gesê hy is nie gemaklik met Furst se vaste adres in Eersterust nie, aangesien hy Furst vyf keer daar gaan soek het en boodskappe gelos het dat hy by die polisie moet aanmeld, maar Furst het hom eers ʼn week later oorgegee nadat die “oorledene ʼn geraas in sy ore gemaak het om dit te doen”.

Botha het egter aangevoer Furst se seun is ʼn week voor sy inhegtenisneming oorlede en hy moes na sy seun se begrafnisreëlings omsien. Mojapelo het gesê hy het nie voor 12 April, toe Furst homself oorgegee het, van die begrafnis verneem nie. Hy het ook genoem Furst het die wond aan sy regterhand opgedoen toe Dreyer hom glo gebyt het.

Botha het die hof versoek dat die saak uitgestel word sodat Reddy se vaste adres bevestig kan word en hy kan uitvind presies waar Furst was in die week wat die polisie na hom gesoek het.

Landdros Mogi Naidoo het die aansoek toegestaan en die saak tot Vrydagoggend uitgestel. Die beskuldigdes bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig Dreyer se liggaam is op 4 April in ʼn mangat in Capital Park gevind nadat Reddy haar aan die polisie oorgegee en Dreyer se dood aangemeld het. Sy het Dreyer se liggaam aan die polisie uitgewys waar hy glo met behulp van Papenfus, Johnson en Furst in die mangat gegooi is.

Dreyer is vermoedelik op 28 Maart tydens ʼn geskil oor geld by sy huis vermoor. Die uitslag van sy nadoodse ondersoek is nog nie beskikbaar nie.

Papenfus is kort nadat Dreyer se liggaam gevind is, in hegtenis geneem. Johnson is op 6 April in Eersterust in hegtenis geneem. Furst is op 12 April in hegtenis geneem nadat hy hom aan die polisie oorgegee het.

Dreyer laat twee broers, ʼn suster, drie seuns en ʼn dogter agter. Hy het ná 20 jaar in die polisie uitgetree en sy eie onderneming, Jakaranda Grafstene, begin.

Lees alle vorige berigte oor die Villieria-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Irene ·

Hoekom so lank draai met so saak gee hul almal lewenslank dan is die saak verby joe

jaco ·

Dis ‘n wit man wat vermoor is. die beskuldigdes lyk vir my ook redelik lig/wit van kleur. so daar sal nie veel van hierdie saak kom nie. Dit sal sloer en al die beskuldigdes sal borg kry net om weer te gaan verkeerd doen. Die slagoffer is net nog een wit mens minder. ons regering worry tog nie oor wit mense nie

m ·

Hierdie vrou het haar dan aan die polisie oorgegee so hoekom moet dit nou so lank vat. Klink soos n saak wat nou weer vir maande en maande gaan aanhou.

charlene ·

Jaco wat jy sê is half-waar maar jy moet onthou hulle soek die wit mense in die tronk so ek hoop werklikwaar die saak sloer nie sodat die slegte skepsels tronk toe kan gaan hulle verdien die tronk en die hel wat saam met dit kom. Hulle ALMAL het `n man vermoor, vir wat??? Hy het dit nie verdien nie, sy kinders verdien nie die pyn van `n uitgerekte saak nie. Hopenlik tel die feit dat hy `n polisie was – hy het omgegee en gehelp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.