Mangaung-tronk weer onder G4S se beheer

Argieffoto Foto: blackpressusa.com

Argieffoto Foto: blackpressusa.com

Die departement van korrektiewe dienste het die Mangaung-gevangenis buite Bloemfontein weer onder volle beheer van G4S geplaas.

Die departement het verlede jaar beheer van die privaatbestuurde gevangenis oorgeneem. “Ons is tevrede dat die kwessies wat ons ondervind het, nou opgeklaar is,” het Zach Modise, nasionale kommissaris, Vrydag gesê.

Andy Baker, streekspresident van G4S, ʼn sekuriteitsmaatskappy, het gesê die maatskappy het onderneem om weer 326 werknemers, wat afgedank is, in diens te neem.

“Ons wil die departement bedank vir sy leierskap in hierdie saak en ons sal steeds nou saam met die departement en ons arbeidsvennote, die polisie en die vakbond Popcru werk om te verseker dat alle bedrywighede gestabiliseer is,” het Baker gesê.

Baker sê die maatskappy en die vakbond sal van ʼn eksterne fasiliteerder gebruik maak om arbeidsverhoudinge voort te sit.

Die departement het in Oktober 2013 bestuur van die gevangenis oorgeneem ná bekommernis oor veiligheid van gevangenes en personeellede. G4S het in September 330 lede van Popcru afgedank nadat hulle geweier het om ná ʼn staking terug te keer werk toe. Die fasiliteit, waar bykans 2 000 gevangenes aangehou word, is tydens die staking deur ʼn beperkte aantal personeellede bestuur. Daar was ʼn oproer in die gevangenis en een vroulike bewaarder is in Oktober 13 uur lank gyselaar gehou deur gevangenes. Sy is later ongedeerd gered deur ʼn spesiale taakspan van die polisie.

ʼn “Omvattende ondersoek” is afgehandel en ʼn verslag is aan G4S oorhandig. Die maatskappy moes binne 21 dae reageer op die verslag. G4S bestuur die gevangenis as deel van ʼn kosortium onder ʼn 25 jaar kontrak wat in 2000 onderteken is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.