“Mangaung-verregse moet skuldig bevind word”

Keevy (links) en Prinsloo tydens 'n hofverskyning op 8 Januarie vanjaar. Foto: Sabrina Dean/SAPA

Martin Keevy (links) en Johan Prinsloo tydens ‘n hofverskyning op 8 Januarie 2013. Foto: Sabrina Dean/SAPA

Die staat het die Bloemfonteinse hooggeregshof Maandag versoek om Johan Prinsloo skuldig te bevind aan hoogverraad of sameswering om ʼn terreurdaad te pleeg.

Prinsloo (51) van Springs in Gauteng staan tereg op aanklag van hoogverraad, sameswering om terreurdade te pleeg en die besit van onwettige ammunisie.

Prinsloo en sy twee medebeskuldigdes, Mark Trollip en Martin Keevy het glo in beplan om die ANC se Mangaung-verkiesingskonferensie in Desember 2012 by die Universiteit van die Vrystaat aan te val.

Staatsaanklaer Torie Pretorius het in sy slotbetoog gesê hy is oortuig die staat het bewys dat Prinsloo by die plan betrokke was. “Die getuienis het dalk nie bewys dat die beskuldigde die meesterbrein was nie, maar bewys wel dat hy die plan gefinansier het,” het Pretorius gesê.

Pretorius sê alhoewel ʼn saak van sameswering gewoonlik deur gevolgtrekkings gemaak word, is hierdie saak anders, aangesien dit deur bewyse in die hof gestaaf is. Hy het gesê getuienis dat die beskuldigde ʼn reis na Ficksburg onderneem het in ʼn poging om mortiere aan te koop, bewys dat hulle deel was van ʼn sameswering om ʼn terreurdaad te pleeg. Die bomme was nie, soos Prinsloo aangevoer het, bedoel om die veiligheid van sy gesin en plaas te verseker nie.

Trollip het verlede jaar ʼn pleitooreenkoms met die Staat aangegaan waarvolgens hy tot agt jaar tronkstraf gevonnis is. Keevy is onbevoeg verklaar om verhoor te word en is verlede Oktober tot ʼn pasiënt van die staatspresident verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.