Mangaung-verregses: Selfoonoproepe onder die loep

Martin Keevy (links) en Johan Prinsloo Foto: Sabrina Dean/SAPA

Martin Keevy (links) en Johan Prinsloo Foto: Sabrina Dean/SAPA

Selfoonoproepe tussen Johan Prinsloo, een van die persone wat van hoogverraad beskuldig word en ʼn staatsgetuie is Dinsdag in die Bloemfonteinse hooggeregshof ondersoek.

Prinsloo (51) van Springs in Gauteng staar aanklagte van hoogverraad, sameswering om aan terreurdade deel te neem, en die besit van onwettige ammunisie in die gesig.

Prinsloo, Martin Keevy (49) en Mark Trollip (49) is in hegtenis geneem in verband met ʼn beweerde plan om in Desember 2012 die ANC se Mangaung-konferensie by die Universiteit van die Vrystaan in Bloemfontein aan te val.

Die staat voer aan Prinsloo het tussen Julie 2012 en 16 Desember 2012 gepoog om die regering omver te werp deur mortierbomme en ander wapens in die hande te kry om pres. Jacob Zuma en kabinetministers by die konferensie aan te val. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Johann Nel, vir Prinsloo, het Dinsdag met sy kruisondervraging van die staatsgetuie, wat slegs as Mnr B bekend staan, voortgegaan. Nel bevraagteken Mnr B se getuienis oor beweerde pogings om mortierbomme op 14 Desember en 15 Desember 2012 vir Prinsloo aan te skaf.

Nel het na selfoonoproepe tussen die groep verwys en aangevoer dat Mnr B se getuienis nie deur die dokument ondersteun word nie. Nel het aangedui hy sal aanvoer dat óf Mnr B besig is om te lieg, óf die staat se dokument is verkeerd.

Mnr B het Maandag aan die hof gesê een poging om die bomme in die hande te kry, was onsuksesvol. Hy is glo later ingelig dat hy mortiere vir R21 000 sou kon kry. Die transaksie is glo nooit afgehandel nie.

Mnr B het ook gesê die ondersoekbeampte het hom met tronkstraf gedreig indien hy nie sy samewerking sou gee nie. Hy het gesê hy moes aan sy vrou en kinders dink en wou nie graag tronk toe gaan nie. Hy het uiteindelik ʼn verklaring by die polisie afgelê oor gesprekke met Prinsloo oor vuurwapens en mortiere.

Trollip het skuldig gepleit op ʼn aanklag van sameswering en is verlede jaar tot agt jaar lank tronkstraf gevonnis. Keevy is onbevoeg verklaar om verhoor te word.

Die saak het Maandag, 12 Mei hervat nadat Prinsloo op 26 Februarie vlugtig voor regter Johann Daffue verskyn het. Daffue het die saak in daardie stadium tot 12 Mei uitgestel. Die hofsaak duur voort. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.