Mango mag weer vlieg ná onderhandelings

Acsa het pas in ’n verklaring gesê dat die vlugte van die laekostelugdiens Mango onmiddellik hervat mag word. (Foto: Mango/Facebook)

Die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het pas in ’n verklaring gesê dat die vlugte van die laekostelugdiens Mango onmiddellik hervat mag word.

Dít volg nadat talle passasiers Woensdag op verskeie lughawens gestrand was nadat dié redery sonder enige waarskuwing of kommunikasie sy vlugte gestaak het.

Luidens die verklaring wat Woensdagmiddag uitgestuur is, het Acsa Mango verbied om te vlieg weens uitstaande skuld, maar sedertdien dié verbod opgehef na onderhandelings en ’n gedeeltelike betaling van die redery se skuld aan Acsa.

Volgens Acsa het Mango ook onderneem om die res van sy uitstaande skuld te betaal.

“Ons volg dieselfde benadering tot Mango as tot alle lugrederye. Dié benadering word op grond van die kontrakte wat tussen die partye gesluit is, bepaal,” het Acsa in sy verklaring gesê.

Dit is onduidelik of passasiers wat vandag noodgedwonge ander vliegtuigkaartjies moes bespreek, hulle geld sal terugkry.

Maroela Media het vroeër berig dat Mango na verwagting van Mei tot Julie vanjaar in sakeredding geplaas word weens ʼn tekort aan geld om krediteure te betaal. Dít blyk uit interne kommunikasie van Mango wat Maroela Media onder oë gehad het.

Die lugredery het egter nog geen amptelike kennisgewing hieroor uitgereik nie en Maroela Media se navrae aan die bestuur bly sedert verlede week onbeantwoord.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hannes ·

n’ Verklarende woordeboek is n’ baie betroubare bron om woord kennis te verbreed ..

Biker mice ·

Eks verward, so wat noem mens dan laekoste behuising….lae prys behuising???

gehasie ·

Wat presies is aan die gebeur? Word die buiteperd teruggehou sodat SAA2V kan verbykom? Heellaas sal dit ten koste wees van die belastingbetalers aangesien SAA vir die laaste paar jaar (2 dekades) in die grond in bestuur is en dit met voorbedagterade. ‘n Power en absolute swak leierskorps by SAA en SEB verseker dat die tweede poging reeds gedoem is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.