Mango-staking verby

Argieffoto (Foto: Bluesnap, Pixabay)

Die staking deur vlieëniers by Mango wat Maandagoggend begin het, het laat Donderdagaand tot ʼn einde gekom.

Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, wie se lede 95% van die vlieëniers by die lugredery uitmaak, het aan Maroela Media gesê ʼn ooreenkoms tussen die vakbond en die lugredery is omstreeks 23:30 bereik.

Volgens die ooreenkoms sal vlieëniers ʼn 7%-salarisverhoging kry en sal ʼn reguleringsooreenkoms van toepassing wees. “Hierdie ooreenkoms sal vlieëniers se vliegtyd, hulle rusperiodes en ander werksomstandighede reguleer. Ander lugrederye het so ʼn ooreenkoms, maar daar was nog nooit so ʼn ooreenkoms by Mango nie. Ons vorige pogings om so ʼn ooreenkoms ingestel te kry was nog altyd onsuksesvol,” het Reyneke gesê.

“Ons het nou met Mango ooreengekom dat so ʼn soort ooreenkoms binne die volgende ses maande in werking gestel sal word.”

Reyneke het gesê vlieëniers is reeds Donderdagaand op bystand geplaas en almal is vandag weer terug by die werk. Van die vlieëniers het reeds weer begin vlieg.

Mango het Vrydag egter steeds ʼn lys van vlugnommers op sy webtuiste vertoon van vlugte wat gekanselleer of herskeduleer is. Volgens die lugredery is sommige kliënte na ander lugrederye se vlugte oorgeplaas, terwyl ander vlugte met ʼn paar ure vertraag is. Die lugredery het gesê hy doen alles in sy vermoë om te verseker dat alle passasiers hul bestemmings bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Well done ·

Wel lyk nie of hulle heeltemal hulle sin gekry het soos wanneer daar klipgegooi en gebrand word nie, maar as dit nou beter met hulle sal gaan GUN ek hulle dit . Dankie Solidariteit en dankie vir die vlieeniers wat hierdie verantwoordelike werk elke dag moet doen. Elke dag wanneer hulle op daardie vliegtuig klim het hulle mense se lewens in hulle hande. WELL DONE!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.