Hein Kaiser, woordvoerder van die lugredery, het gesê vlug JE139 was vroegmiddag van Johannesburg na Kaapstad op pad, toe een van die passasiers hartprobleme ontwikkel het.
“Die man het gekla dat hy borspyn het en die vlieënier het besluit om eerder by die George-lughawe te land as om Kaapstad toe te vlieg, omdat George nader was,” het hy gesê. “Ongelukkig is die man dood toe die vliegtuig geland het.”
Volgens Kaiser was paramedici en die polisie onmiddellik op die toneel en kon die vlug eers ʼn uur en ʼn half later weer opstyg. “Die spesifieke vliegtuig se roete was vir die res van die dag met ongeveer twee ure vertraag weens die voorval.” Hy het ook namens Mango sy diepste medelye aan die familie en vriende van die oorledene betuig.
Hierdie voorval kom slegs ʼn week nadat ʼn Mango-vlug tussen Johannesburg en Kaapstad verlede Woensdag ʼn noodlanding in Bloemfontein moes doen toe ʼn passasier aan boord ook borspyne gehad het. Die vliegtuig kon gelukkig betyds land sodat die man mediese behandeling kon ontvang en hy het die voorval oorleef, het Kaiser gesê.
Maroela Media het in Mei berig dat ʼn 63-jarige vrou aan boord ʼn Mango-vlug dood is nadat sy vermoedelik ook hartprobleme gehad het.
Ek was Woensdag op hierdie vlug. Dit is n minder aangename ondervinding, maar kan getuig dat Mango se personeel en die passasiers om my die situasie met die grootste deernis hanteer het. Innige meegevoel aan sy vrou en kindertjies.