Mangosuthu Buthelezi oorlede

Mangosuthu Buthelezi (Foto: Bongani Mbatha /African News Agency (ANA)

Prins Mangosuthu Buthelezi, voormalige leier van die Inkatha Vryheidsparty en tradisionele premier van die Zoeloes, is Saterdag in die vroeë oggendure oorlede.

Die familie het in ʼn verklaring sy afsterwe bevestig.

“In hierdie verskriklike oomblik, dank ons God Almagtig vir sy getrouheid en genade, en ons weet vir seker dat uMntwana deur sy Here omhels is. Hy het in die vroeë oggendure stil en sonder pyn die ewigheid binnegegaan,” lui die verklaring.

Buthelezi het op 27 Augustus sy 95ste verjaarsdag in die hospitaal deurgebring. Hy het in Julie ʼn roetine-ondersoek ondergaan weens langdurige rugpyn, maar moes in Augustus weer opgeneem word ná hy ’n komplikasie ontwikkel het ná die prosedure.

“Ons besef dat sy afsterwe baie mense sal raak en dat baie mense hul meegevoel sal wil betuig. Die familie sal met die koning en die koninklike familie, die president, die Buthelezi-stam en die leierskap van die IVP in gesprek tree om die nodige begrafnisreëlings te tref.”

Die Buthelezi-familie het die land bedank vir die ondersteuning wat hulle die afgelope paar weke ontvang het. “Ons sê ook dankie vir die gebede wat ons sekerlik nou sal help dra.”

President Cyril Ramaphosa het ook sy meegevoel betuig.

“Prins Mangosuthu Buthelezi was ʼn uitstekende leier in die politieke en kulturele lewe van ons land, insluitend die eb en vloei van ons vryheidstruggle, die oorgang wat ons vryheid in 1994 verseker het en ons demokratiese bestel. Ek dink aan en bid vir die koninklike huishouding, die Zoeloenasie en die leierskap en lede van die IVP.”

Buthelezi was die stigter en voormalige leier van die Inkatha Vryheidsparty. Vanaf 1994 tot 2004 het hy as die minister van binnelandse sake in die kabinette van Nelson Mandela en Thabo Mbeki gedien. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.