Mangosuthu Buthelezi vier 90ste verjaardag

Mangosuthu Buthelezi. Foto: Siyasanga Mbambani, departement van kommunikasie

Een van die reuse van die Suid-Afrikaanse politieke toneel, die IVP-leier Mangosuthu Buthelezi, bereik vandag ʼn sonderlinge mylpaal wanneer hy sy 90ste verjaardag met ʼn saamtrek in die Zoeloelandse dorp Ulundi vier.

Buthelezi is op 27 Augustus 1928 gebore in Mahlabathini, waar hy steeds woon. Sy oupa was koning Dinizulu en sy ma prinses Magogo Zulu.

Hy het aan Adams College in Amanzimtoti gematrikuleer waarna hy aan die Universiteit van Fort Hare gestudeer en ʼn BA-graad verwerf het.

In 1953 het hy hoofman van die Buthelezi-stam geword, en in 1976 hoofminister van die tuisland KwaZulu, met Ulundi as hoofstad. Dit het gevolg op die stigting van die Inkatha-beweging, wat tradisionele Zoeloewaardes aangehang het, in 1975. Inkatha was ʼn herlewing van die oorspronklike Inkatha-beweging wat in die 1920’s as teenvoeter vir die sosialisme en die vakbondbeweging onder die Zoeloesprekende bevolking van die destydse Natal gedien het.

Mangosuthu Buthelezi. Foto: GCIS

Vanaf 1979 het Inkatha skerp verskille met die verbanne ANC ontwikkel, wat uitgeloop het op ʼn bloedige laevlak-burgeroorlog tussen Inkatha-geaffilieerde en ANC-geaffilieerde groepe in KwaZulu en Natal.

Die Inkatha-steun was grootliks noord van die Tugelarivier en in ander landelike dele van die tuisland KwaZulu gesentreer, en die ANC-steun grootliks suid van die Tugela en in verstedelikte gebiede.

In veral die tydperk tussen 1979 en 1994 het Buthelezi ʼn ambivalente staanplek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek verkry. Ondersteuners beskou hom as ʼn sterk leier wat die dwingelandy van die ANC teengestaan het. Teenstanders meen hy het die bevrydingstryd uitverkoop deur met die apartheidstaat saam te werk, en dat die bloed van vele aan sy hande kleef.

Mangosuthu Buthelezi. Foto: GCIS

In 1990 het Inkatha homself amptelik tot ʼn politieke party omgeskakel en in 1994 het hulle aan die eerste demokratiese Suid-Afrikaanse algemene verkiesing deelgeneem. In die verkiesings van 1994 en 1999 het die IVP die meeste stemme in KwaZulu-Natal getrek. In 2004 het die ANC hulle in die provinsie verbygesteek, en in 2014 ook die DA.

Van 1994 tot 2004 het Buthelezi as Suid-Afrika se minister van binnelandse sake gedien, en hy is reeds sedert 1994 ononderbroke ʼn parlementslid.

Die IVP se nasionale steun het tussen 1994 en 2014 geleidelik afgeneem van 10,5% tot 2,5%, hoewel dit sedert die munisipale verkiesing van 2016 weer ʼn opwaartse trajek aangeneem het.

Buthelezi se verjaardag sal vandag luisterryk gevier word in sy tuisdorp, waar die IVP in 2016 beheer oor die plaaslike munisipaliteit van die ANC af herower het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ja ne ·

Hierdie man was n yster. Baie respek vir hom gehad. As ons boere maar so n leier gehad het…..

Elred Ferreira ·

Ek was een van sy LP s vir 2 termyne tussen 94 en 2004.Hy is werklik n baie goeie mens wat geweldig vir Suid Afrika kon beteken het as hy heelwat jonger was met die aankoms van die nuwe bedeling in 94…..ongelukkig het sy party bietjie plat geval,want hy ly ongelukkig ook aan die Afrika siekte waar n leier vir ewig leier wil wees….maar n werklike goeie mens!

DinkBiejie ·

Happy 90th Birthday Mr Buthelezi. Truly a milestone, for a man I respect.

Joe ·

Jammer ons het nie meer van sy kaliber in die politiek nie, maar dan, geleerdhied is nou nie juis ‘n sterkpunt onder die ANC kaders nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.