Manie Maritz oorlede: ‘Hy was ʼn legende’

Manie Maritz. Foto: MFG-begrafnisgroep/Facebook

ʼn Gedenkdiens vir Manie Maritz, die bekende stoeier en pionier-Brahmanboer, is vanoggend in die APK Gemeente in Brits gehou.

Maritz is verlede week in die ouderdom van 93 oorlede.

Volgens die MFG-begrafnisgroep is Maritz, seun van genl. Manie Maritz, op 18 April oorlede, presies een jaar ná die roudiens van sy wyle eggenote en lewensmaat. Maritz het op 5 April sy 93ste verjaardag gevier.

Die Brahman-beestelersgenootskap van Suid-Afrika het gesê Maritz se passie vir die Brahman-ras was welbekend. Maritz het egter aanvanklik naam gemaak met stoei toe hy reeds in 1946 provinsiale kleure gekry het. Hy het die volgende jaar internasionaal begin deelneem en het volgens berigte 51 van die 60 toernooie waaraan hy deelgeneem het gewen terwyl die ander 10 gelykop geëindig het.

Manie Maritz. Foto: Brahman-beestelersgenootskap/Facebook

Maritz het volgens die genootskap sy eerste Brahmane in 1948 gekoop. “Hy het die eerste en uiters suksesvolle Brahman-verkoping in Suid-Afrika gehou.” Volgens die genootskap het Maritz ʼn baie spesiale verhouding met sy Brahmane gehad.

Maritz het in April 1964 in ʼn beestrok van Kaapstad na Johannesburg gery, aangesien sy vrou sowat 21 Brahmane in Amerika gekoop het en die versekering vir die treinrit te duur was. Maritz het dus besluit om self saam met die beeste te reis om hulle op te pas.

Volgens die genootskap het Maritz ook by die skou van die beeste betrokke geraak en talle kampioenskappe gewen. “Die genootskap het sy bydrae tot die ras besef en hy is tot die genootskap se raad verkies en in 2002 ʼn erelid gemaak.”

Maritz is in April 2014 tydens die genootskap se 17de Wêreldkongres in hul heldesaal opgeneem en met ʼn toekenning vereer. “Vaarwel aan ʼn legende en vriend. Jy sal deur almal van ons wat jou passie vir die ras deel onthou word.”

Manie Maritz. Foto: Brahman-beestelersgenootskap/Facebook

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Oom Kalahari ·

Hy was inderdaad ‘n legende en in sy tyd was dit opregte stoei en nie soos vandag se aangeplakte veronings nie. Brahaman bees en kruising was sy passie en baie Skoue bygewoon. Manie was inderdaad ‘n ou grote wat diep spore getrap het. Innige simpatie aan al Manie se gesins lede, familie en vriende met hul groot verlies. RIV Manie, jou nalatinge sal by die ouergarde bybly.

Wolf ·

Ek sekondeer als wat jy se oom Kalahari. oom Manie was in my tyd seker die gewildste en kragtigste stoeier op die mat. My innigste simpatie met al sy nasate en familie. Oom Kalaharie het jy die stoeier die wildeman van die Kalahari geken?

Gerrit ·

My oupa het my vertel die oom Manie kon n brahman bul vasdruk dat hy nie kon beweeg ,en een aand op Brits het hy vir Kallie Knoetze by n HNP vergadering by die stadsaal uitgegooi oor Kallie aanmerkings gemaak het ,op daai stadium was Kallie Knoetze sa swaargewig bokskampioen.Sa het n groot man verloor ?

leser ·

‘n groot kanon het sy rusplek gekry, sal altyd onthou en vereer word, RIV Manie, vriend

Fransie ·

RIV oom Manie. Jy sal altyd vir my n held bly. Dankie ook vir wat oom vir my Volk gedoen het. Ek wens net ek kon meer met Oom gesels het. Sterkte aan al sy geliefdes. My laaste saluut aan n groot man.

Haan ·

Ek het laas week sy pa se boek “my lewe en strewe” gelees. Wat n merkwaardige gesin. Sy Pa Genl. Manie was blykbaar so sterk soos n os.
Oom Manie, mag ons ook jul familie se vryheidsideaal koester. Rus in vrede

Rooiman ·

Sjoe, wat n reus. Die oom het die ongelooflikste versameling artifakte van sy voorgeslagte vanuit die Groot Trek-dae, Engelse oorloë en rebelliedae in sy huis vertoon. So soort van n museum oor die formidabele Maritz-manne. Hy het my persoonlik daardeur gevat, fotos uitgewys en die agtergrond verduidelik ens. Hy het ook sy boek “Bloed en sweet”vir my gegee en geteken. Om dan ook nie eers te praat van hulle wondermooi plaas nie, aan die hange van die Magaliesberge. Sjoe, wat n man en familie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.