Mans gevonnis oor Matie-student se moord

V.l.n.r. Vernon Witbooi, Geraldo Parsons en Eben van Niekerk (Foto: Noor Slamdien/ANA)

Die drie mans wat die student Hannah Cornelius verlede jaar in Stellenbosch ontvoer, verkrag en vermoor en haar vriend Cheslin Marsh ernstig beseer het, is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis.

Vernon Witbooi, Geraldo Parsons en Eben van Niekerk is verlede week skuldig bevind op aanklag van roof, ontvoering, verkragting en moord. Hulle is elk tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

ʼn Vierde man, Nashville Julius, is skuldig bevind op aanklag van roof en ontvoering. Hy is tot 22 jaar tronkstraf gevonnis. Hy het van die toneel gevlug ná die groep mans Cornelius en Marsh aangeval en beroof het.

Witbooi en Parsons is elk tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklag van die verkragting en moord op Cornelius; 25 jaar elk op aanklag van poging tot moord op Marsh; 15 jaar op vier aanklagte van roof (wat afsonderlike slagoffers insluit wat op dieselfde dag deur die mans beroof is); 10 jaar op aanklag van die ontvoering van Marsh, Cornelius en Mimi October. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Van Niekerk is tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklag van die verkragting en moord op Cornelius; 20 jaar tronkstraf op aanklag van poging tot moord op Marsh; 20 jaar vir vier aanklagte van roof; 10 jaar op aanklag van die ontvoering van Cornelius en Marsh en agt jaar op aanklag van die ontvoering van October. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Julius is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op twee aanklagte van roof en sewe jaar op twee aanklagte van ontvoering.

Lede van die publiek het gejuig toe regter Rosheni Allie haar uitspraak gelewer het.

Marsh het die uitspraak verwelkom. Hy is dankbaar dat geregtigheid geskied het. “Ek voel verlig, ek voel goed, ek kan nie beskryf hoe ek voel nie. Ek voel die Here het sy deel gedoen. Geregtigheid het geskied. Ek voel verlig, want dit voel of ek ʼn berg uitgeklim het. Ek wil almal bedank wat gehelp het om die ouens aan te keer en seker te maak dat hulle suksesvol vervolg is.”

Maroela Media het vroeër berig Marsh en Cornelius is die aand van 26 Mei 2017 aangeval toe hulle buite Marsh se woonstel in die parkeerterrein in die motor sit en gesels het. Die mans het hulle met ʼn mes en ʼn skroewedraaier gedreig en met hulle in die motor rondgery voor hulle beroof is. Marsh is met bakstene aangerand en vir dood agtergelaat. Hy het wonderbaarlik die aanval oorleef, maar het ernstige kopbeserings opgedoen en is doof in sy een oor ná die aanval.

Die beskuldigdes het daarna met Cornelius weggery en haar in ʼn verlate plek om die beurt verkrag. Hulle het daarna met haar na ʼn wynplaas gery waar hulle haar in die nek gesteek en sy gesterf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Muffin

Waar is die doodsstraf. Nou moet ons belastingbetalers vir hulle sorg.

Nelia van Zyl

Miskien sal die selfvoldane uitdrukkings nou van hierdie skurke se gesigte verdwyn en net dalk sal dit ander laat dink oor die gevolge van sulke veragtelike optrede.

apie

Die misdaad in ons land is afskuwelik, Sterkte aan die families -die wereld neem kennis, met groot medelye en hartseer. . Die eerste reel in ons huis is om liewer tuis te kuier as om uit te gaan as jy nie bewus is van enige moontlike gevare nie. Ook die mense met wie jy sosialiseer baie vernuftig kies. Alkohol maak jou weerloos. Die kans dat jy aangeval sal word binne stapafstand van armer gebiede is ook baie groot, veral in die nag. Baie jong mense is skynbaar ook onbewus van die soorte dwelmmiddels wat mense gereeld gebruik – in die… Lees meer »

Herman

Hoop nou net nie die gemors kry parool oor 5 jaar nie

Johanna Botha

Doodstraf terug ASB ! Dis hoekom niks gebeur in Botswana want hulle het die doodstraf.