Mans glo beroof toe ‘verkeerspolisie’ hulle voorkeer

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Scott Rodgerson/Unsplash)

Twee mans is na bewering vroeër vandeesweek beroof toe hul oor ʼn stopstraat gery het en deur mans, wat hul glo voorgedoen het as verkeerspolisielede, aangekeer is.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê twee mans het Dinsdag op die R40 in Mpumalanga gery op pad na Witrivier, toe hulle deur ʼn verkeerskruising gejaag het sonder om te stop.

Drie mans in verkeerspolisieuniforms het langs ʼn Wit Volkswagen Polo TSI gestaan en vir die mans, wat in ʼn bakkie gery het, gewys om van die pad af te trek.

Die slagoffers het glo ʼn onbekende bedrag geld in die motor gehad wat aan ʼn maatskappy, waarvan die naam nie genoem word nie, behoort het.

“Die slagoffers beweer dat een van die lede ʼn rybewys aangevra het, terwyl die ander twee met vuurwapens die voertuig deursoek het,” sê Mohlala.

“Die vermeende verkeerspolisielede het glo die insittendes se beursies en selfone geëis en twee sakke vol geld gevat.”

Die bestuurder beweer dat hy deur een van die individue in uniform aangerand is en dat hulle beveel is om op die grond te lê voordat die vermeende rowers met die gesteelde goedere van die toneel af gevlug het.

Dit is egter nie duidelik wie die individue is wat hulself voorgedoen het as verkeerspolisielede nie, aangesien al drie gesigsmaskers gedra het en hul motor nie nommerplate gehad het nie.

Die voorval is kort daarna by die polisie op Witrivier gerapporteer en ʼn saak van roof is aanhangig gemaak.

“Die polisie is tans besig om alle beskikbare hulpbronne te gebruik om vas te stel wat werklik op die dag plaasgevind het,” sê Mohlala.

“Ons is daartoe verbind om te verseker dat die verdagtes sonder vrees of guns voor die hof gebring word.”

ʼn Niksvermoedende motoris is verlede maand glo deur ʼn lid van die Gautengse verkeerspolisie en een van sy makkers wat hom as ʼn lid voorgedoen het gekaap, geskiet en ontvoer.

Metropolisielede het egter tot die man se redding gekom nadat die vermeende verkeerspolisielede van die pad afgetrek is vir roekelose bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Debby ·

Ek weier om te stop vir enige een in univorm, grootste krimenele onder ons

Piet ·

Jy mag weier. Staan ook ‘n groot kans om dan deur die regte polisie geskiet te word. Catch 22???

Stormjaer ·

Klink meer of hulle weg is met die werk se geld en nou die polisie blameer.

Nie Verbaas ·

Hier is n slang in die gras. Klink meer of dit beplan is.

Di ·

Lieg storie! Dit is ‘n beplande daad. Hoe toevallig dat hulle nou gestop word met al daai geld!

Cathy2018 ·

Selfde geval het met ons in krugersdorp gebeur.
4 man’s in voertuig wat Dien as police. Ons het af getrek en gelikig was die Kar Nog aan gesluit. Toe die man se ons het gesmokkel ons is “under arrested” het ek snaaks vir my man gekyk gesien die man aan sy kant trek n wapen uit ek net geskree ry ry. Ons het veilag weg gejaag gery tot by police stasie. Ons het nie n saak geopen nie, ek Kani my self in dink wat sou kon gebeur het nie. God se genade is groot.

Harley Davidson ·

Hoekom neem ons altyd aan dat dit nie regte verkeer of polisie is nie in Suid-Afrika vandag weet ek kanse is goed dat die polisie of verkeers polisie jou sal beroof.

Sarel ·

” BLOULIG BRIGADE”
1. Nie noodwendig ” Inside Job” nie. Mense wst groot bedrae vervoer word dopgehou en gemonitor..
2. Dit is belaglik hoe mense van ” Wets toepassing” gebruik maak om Burggers te beroof amper asof
Uniforms..ens. uitgehuur word.
3. Watter stappe gaan ons ” Nuwe” Kommisaris neem
Om Burgers te beskerm.

Thelsa ·

Hier is ‘n slang in die gras. Hoe het die ‘Verkeerspolisie’ geweet van die sakke met geld in die kar?

Jack ·

Misdaad in die land is soos covid almal word aangesteek maar almal word nie ernstig siek nie.

Waarnemer ·

Gaan soek daardie spietcops by Mcdonalds in …hulle eet burgers met hoenderboudjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.