Mans in hof vir bedrog

Argieffoto

Twee mans het vandeesweek afsonderlik in die hof verskyn in verband met aanklagte van bedrog.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring Andries Johannes Els (52) is Dinsdag in die Tzaneen-streekshof in Limpopo aan bedrog skuldig bevind.

Els is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis nadat hy in Februarie verlede jaar ’n gekloonde tjek van R496 000 by ’n bank in Tzaneen aangebied het.

Die banktellers het onraad vermoed en die man is in die bank in hegtenis geneem. Hy was sedertdien in aanhouding.

Nog ’n man het vandeesweek in ’n hof in die Noord-Kaap verskyn, nadat hy glo ʼn regeringsdepartement uit derduisende rande geswendel het.

Tapelo Emmanuel Sehunelo (39) het Maandag in die Kimberley-landdroshof verskyn nadat hy na bewering die departement van onderwys, sport, kuns en kultuur bedrieg het.

Sehunelo was ’n direkteur van ’n reisagentskap toe hy na bewering namens dié departement besprekings vir 114 mense by die Airport Hotel en Horseshoe Motel gedoen het. Die mense sou gedurende ’n sportbyeenkoms in Maart verlede jaar vir ʼn kort ruk hiér tuisgaan.

Die departement het die geld vir die akkommodasie aan die agentskap betaal, wat veronderstel was om dit namens hulle aan die hotelle te betaal. Die agentskap het egter nooit dié geld oorbetaal nie.

Luidens ’n verklaring het die departement ’n verlies van R376 000 gely.

Die saak is by die Valke aangemeld, waarna Sehunelo Saterdag in hegtenis geneem is.

Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat en sal na verwagting weer op 4 Februarie in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

My Mening ·

Ek stem volkome saam, die 1 persoon was sedert Frebuarie 2019 in aanhouding en die ander persoon kry borgtog. Waar is die regverdigheid, brdrog is immers bedrog!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.